Skrikwekkend, vreemd, gedisoriënteerd, ’n belewenis – so beskryf lede van die publiek wat Vrydag (11 Oktober) vir ’n wyle in die skoene van siggestremdes gestaan het toe hulle vir sowat ’n uur geblinddoek en deur die Mountain Mill Shopping Mall in Worcester begelei is.
Hierdie bewusmakingsveldtog was deel van nasionale Oogsorgmaand wat van middel September tot middel Oktober gevier word.
’n Paar siendes wat geblinddoek is en saam met siggestremdes aan die mall walk deelgeneem het, het hul ervarings met Standard & Breederivier Gazette gedeel.
“Dit voel verskriklik vreemd. Ek voel baie gedisoriënteerd, maar terselfdertyd is ek ook nuuskierig om uit te vind waar ons in die gebou is,” sê Suzaan Scholtz van Worcester Toerisme.
“Ek probeer dit uit-figure met my ander sintuie. Dit is nogal skrikwekkend, maar gelukkig het my begeleier meer as 40 jaar ervaring in [die begeleiwerk] wat sy doen, so ek dink ek is oukei,” sê sy.
“Dis ’n belewenis. Ek dink nie ons besef hoe bevoorreg ons is om te kan sien nie. Ek is glad nie bang nie, want ek voel veilig saam met haar [die begeleier],” sê nog ’n siende, Amanda Krouwkamp.
Carel van der Merwe van die Worcester Moedergemeente sê die mall walk is vir hom ’n ongelooflike ervaring.
“Ek is self siggestremd, want ek is in ’n mate nagblind, maar dis mos nou ’n heel ander ervaring omdat dit helder oordag in ’n baie besige plek is.”
Vir Standard & Breederivier Gazette se verslaggewer, Enrico Claassen, wat ook geblinddoek is en aan die mall walk deelgeneem het, was dit nogal ’n skrikwekkende ervaring.
“Ek het die heeltyd gevrees ek gaan in iets gaan vasloop.
“Omdat my ander sintuie soos my gehoor in daardie stadium baie sensitief ingestel was, het ek die stemme van inkopiegangers wat ek toe so helder kon hoor, nogal intimiderend gevind.”
Corrie Malan, die geldinsamelaar en bemarkingsbestuurder by Innovation for the Blind, sê die hoofdoel van die mall walk is om siggestremdes te oriënteer om later vryelik en met selfvertroue in die winkelsentrum te kan rondbeweeg.
Volgens haar het die oriëntering ook ten doel dat siggestremdes presies weet watter winkels aan hul linkerkant en regterkant is en waar die eetplekke is, sodat hulle later op hul eie daarheen kan gaan.
“Die meeste van ons inwoners wat blind is, kom nie eintlik baie in die mall nie. Hy of sy moet georiënteer word; dieselfde met gidshonde.”
Vyf siggestremdes met gidshonde en vyf met hul kieries het aan die mall walk deelgeneem. Die twee groepe het elk ’n begeleier gehad. Die altesaam sewe siendes wat geblinddoek was, het elk ’n begeleier gehad.
“Mense is nie altyd bewus van al die uitdagings wat ’n mall bied nie, byvoorbeeld die motors wat in die gange van die sentrum uitgestal word. ’n Siggestremde moet bewus wees van daardie gebiede.
“Hy of sy moet staatmaak op sy of haar begeleier en die terugvoering wat hulle van die betrokke begeleier kry. Nog ’n uitdaging is dat iemand dalk in ’n blinde kan vasloop.”
Volgens Malan het winkel-assistente in die winkelsentrum die siggestremdes meer vertel van onder meer wat die winkel alles verkoop, waarna iets klein aan die siggestremdes oorhandig is. “Ons noem dit ’n tipe van ’n skattejag.”
“Dis my tweede besoek aan die mall,” sê Annette Klaasee, ’n siggestremde.
“As ek alleen was, sou ek baie verlore gevoel het omdat die plek groot en oop is. Dis darem nou nie so erg dat ek sal wil weghardloop nie. Omdat ek saam met die ander was, sal ek nie sê dit was skrikwekkend of intimiderend nie. In dié stadium is dit ’n opwindende gevoel. Ek sal nie sommer alleen hierheen kom nie.”
Joseph Matheatau, ’n siggestremde en die eerste gekwalifiseerde blinde barista in Suid-Afrika, sê Vrydag was die eerste keer in vier jaar dat hy die Mountain Mill-sentrum besoek het. Hy sê hy het die mall walk terdeë geniet.
Hy sê voorts die “growwe” loop-area aan weerskante van die loop-oppervlak in die gange het dit vir hom baie maklik gemaak om vryelik en met gemak te kan beweeg.
Volgens Matheatau is die sentrum se personeel baie vriendelik en behulpsaam.
Hy voel die personeel vergemaklik hul inkopie-ervaring en sê die mall walk was vir hom glad nie skrikwekkend of intimiderend nie.





