Wendy Kaizer-Philander is nou ’n lid van die provinsiale parlement. Foto:


Die DA se kiesafdelingshoof in die Witzenberg, Wendy Kaizer-Philander, is onlangs as ’n lid van die provinsiale parlement aangekondig.

Kaizer-Philander het haar politieke loopbaan in 2008 al begin en skryf haar dryfkrag toe aan haar lewensondervinding wat haar as kind geslyp het.

“Ek was tot 2011 ’n munisipale amptenaar by die Drakenstein-munisipaliteit. Ek het in 2008 by die politiek betrokke geraak as die DA se taksekretaresse op wyksvlak. As amptenaar implementeer jy beleid en gee uitvoering aan raadsbesluite. Ek wou graag in die posisie wees om deel te wees van die besluitnemingsprosesse en in ’n posisie wees wat beleid kan beïnvloed en hoe dit ’n groter uitwerking en positiewe invloed om ons plaaslike gemeenskappe teweeg kan bring,” verduidelik sy.

Sy is in 2011 deur die DA as wykskandidaat vir wyk 26 in Drakenstein aangewys en haar belangstelling in mense sit agter hoe sy te werk gaan. “My belangstelling in politiek gaan grotendeels oor my belangstelling in mense en hul omstandighede. Politiek is die meganisme wat die verandering kan teweegbring. Iemand het my anderdag herinner – tydens een van my laerskool-skoonheidskompetisies (ek was lief om deel te neem) is daar ’n deel waar jy jouself aan die beoordelaars en die gehoor bekendstel, en een van die vrae wat jy moes beantwoord was, ‘wat wil jy eendag word?’ My antwoord was ’n raadslid – kan jy dit glo? Ek glo nie ek het al in daardie stadium die presiese omvang besef nie, maar die motivering was om mense te help.”

In haar nuwe rol sal sy steeds voortgaan om positiewe verandering mee te bring – nie net in die Witzenberg nie, maar ook in die provinsie. “Wat min politici verstaan, is as jy met jou hart kan konnekteer, kan jy onmiddellik impak maak. Ek sorg dat ek in my alledaagse werk met my voete stewig op die grond staan. Dit het my die geleentheid gegee om eerstehands kennis te maak met die onderskeie gemeenskappe en ook die dinamika te verstaan en bewus te word van die uitdagings. Witzenberg het ’n uiteenlopende landelike omgewing, en soms bestaan die persepsie dat landelike gemeenskappe agtergelaat word. Dis iets wat moet verander. Die geleenthede bestaan in Witzenberg, sowel as in die provinsie, en daardie geleenthede moet die gemeenskappe bereik.”

Haar passie vir mense en hul ontwikkeling is diep gewortel en dus wil sy graag dien as voorsitter van die Komitee vir gemeenskapsontwikkeling. “Ek het my hand opgesteek om as voorsitter te dien. Ek wil nou betrokke wees by die kwessies wat daagliks mense se lewe beïnvloed. Ek glo ook ons moet ons gemeenskappe meer betrokke kry by die werking van die parlement, die verstaan van die provinsiale regering, die bymekaarbring van belangegroepe in die veld van opheffing om sodoende ons samelewing as geheel te kan benader. Ons gemeenskappe moet floreer en vooruitgang geniet.”

Sy heg groot waarde aan die waardes wat sy as kind by onder meer haar gemeenskap geleer het. “ ’n Gesegde van my 84-jarige tannie is altyd: ‘My kind, staan op die platte van jou voete’ (staan sterk waarin jy glo, al staan jy ook alleen). Mense word lankal nie meer blindelings deur politici gelei nie. Ek is mens-georiënteerd en wil net graag mense se lewe deur dit wat ek doen, positief beïnvloed.”

Kaizer-Philander meen al was sy nie in die politiek nie, sou sy steeds haar gemeenskap op die een of ander manier gedien het. “Ek glo dis wat ek sal aanhou doen; in enige hoedanigheid. Min weet waar jy jou krag en deursettingsvermoë vandaan kry. Myne is van Bo. En die feit dat as graad 11-meisie – toe my ma skielik sterf en my pa albei rolle moes vertolk en ek baie op familie moes steun – is die tye wat my vir vandag geslyp het. Dit was nie maklik nie, maar dit slyp jou karakter, ’n inherente krag van binne, geloof in wat jy doen en die wete Wie jou dra en die wil om ’n verskil te maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article