Weldoeners is mense met ’n passie vir hul gemeenskap en is oral om ons, maar baie min kan dit regkry om hul gemeenskap op te hef soos Daphné Oliphant (49) van Roodewal, wat dit al meer as twee dekades lank doen.
Daphné, ’n boorling van Worcester, woon haar lewe lank in die gemeenskap van Roodewal en het op 25-jarige ouderdom besluit haar lewenspad moet anders lyk as dié van haar tydgenote.
“Ek het nog altyd die droom gehad om ’n modeontwerper te word. Ek het as jong meisie net soos ander my jongmenslewe geniet, maar toe ek 25 jaar oud word, het ek besluit ek moet iets doen om die mense, veral die jeug, in my gemeenskap te help en by te staan,” vertel sy aan Standard.
Daphné het toe vanuit ’n klein en beskeie huisie in die buurt die House of Mercy gestig waar kinders in die middae gaan om te leer en sommiges sommer oorbly en na omgesien word.
“Daar was ’n groot behoefte in ons omgewing om ’n soort skuiling te skep waar kinders kan leer, iets te ete kry en sommiges wat uit moeilike omstandighede kom, na omgesien kan word en oornag kan bly. Ek het die plek geskep en so ’n paar jaar later het ek en my man ’n huis gekoop wat ons kon omskep in ’n plek van leer, ’n plek om met jou hande te werk en ’n plek waar elkeen kon tuis voel. Ons is baie dankbaar daarvoor,” vertel sy.
Daphné het op ’n dag besluit om ’n jeugkoor te stig en het by die kerk met haar koor gaan optree. ’n Vrou het haar passie raakgesien en haar oortuig om vir Clover se weldoenersprojek, Clover Mama Afrika, in te skryf.
“Ek was eers skepties en het nie gedink ons kan so iets vermag nie. Ek het in elk geval ingeskryf en gehoop en gebid dinge sal vir ons uitwerk – sodat ons raakgesien kan word, dat ons nog hulp kon inwin en dat ons nog mense kon bystaan en help.”
Sy het toe op ’n dag ’n oproep van prof. Elain Vlok, ’n professor in kommunikasiekunde en die stigter van Clover se Mama Afrika-projek, ontvang.
“Sy het my ingelig dat ek gekeur is en ek was uit my vel van opgewondenheid oor die geleentheid.”
Clover Mama Afrika help vroue wat skuilings en veilige hawes vir ander in hul gemeenskap geskep en ’n morele noodsaaklikheid aangevoel het en net iets – enigiets – vir ander sal doen.
Hierdie vroue deel almal ’n liefde vir hul gemeenskap en wil altyd dit wat gebroke is, herstel of ’n omgewing skep waar ander bygestaan kan word.
Hierdie ongelooflike vroue het al ’n verskil in die lewe van diegene rondom hulle gemaak, ondanks die probleme waarmee hulle self soms te kampe het. Hierdie projek bied hulle opleiding en die nodige hulpbronne om van al hul projekte ’n sukses te maak. Op hul beurt dra hulle hul vaardighede aan die gemeenskappe oor, wat ’n rimpeleffek van werksgeleenthede en volhoubaarheid oor die land heen skep.
Tans is Daphné een van amper 30 aktiewe vroue in die land wat terugploeg en help waar hulle kan.
Toe sy net minder as twee dekades gelede by hierdie groep formidabele vroue aangesluit het, het sy nooit gedink sy sou soveel vermag nie.
“Dit is ’n wonderlike ervaring. Dit is die hoogtepunt van wat ek doen en dit is fantasties om deel te kan wees van hierdie groep en soveel leiding van wonderlike mense soos prof. Vlok te ontvang. Ons het al talle naaldwerkkursusse, bakkursusse en enigiets wat ons kan opbou en toerus om ons gemeenskap weer te kan ondersteun, aangebied.”
Die kursusse word deur Clover gereël om hierdie vroue te bemagtig om op hul beurt ander in hul omgewing op te lei.
“Dit is en bly ’n voorreg om te kan doen wat ek doen.”
Sy het nog baie planne en drome wat sy wil naspoor en fokus nou om ander by te staan en op te hef.





