Die saak waarin die 48-jarige Elton Weise van Worcester tereg gestaan het op ’n aanklag van moord nadat hy in selfverdediging opgetree het, het verlede week in die Paarl-streekhof tot ’n einde gekom.
Weise, wat sedert 2018 in ’n hofgeding was met betrekking tot die saak, is verlede Donderdag (23 Maart) onskuldig bevind en vrygespreek.
Die staat het aangevoer dat Weise na bewering op 20 Julie 2018 die 28-jarige Johannes Jacobs, ’n informele skrootversamelaar, buite die winkel wat Weise in daardie stadium bestuur het, doodgeskiet het, en ’n moordsaak is teen Weise ondersoek.
Tydens die hofverrigtinge is bevind dat Jacobs, wat gereeld met die reg gebots het, onwettig toegang tot ’n vullisbak gekry het in ’n geslote deel van die perseel en skroot uit die bakke wou neem. Weise het Jacobs (en sy suster wat hom vergesel het) gevra om die items terug te plaas en die perseel te verlaat. Jacobs het Weise met ’n stok probeer aanval. Weise het die stok ná ’n struweling in die hande gekry, gebreek en terug in die vullisbak gegooi. Weise was onder die indruk die oorledene en sy suster het die perseel verlaat, maar Jacobs het hom met ’n steen bestorm. Weise, wat professioneel opgelei is om met vuurwapens te werk, het toe in selfverdediging opgetree aangesien hy nie ’n wegkomkans gehad het nie en Jacobs is weens die skoot oorlede.
Die saak het bykans vier jaar lank in die hof gedraai en is eers in Worcester aangehoor. ’n Paar weke gelede is die besluit geneem om die saak na die Paarl-streekhof oor te plaas.
Die landdros, Diane Blaauw, het die saak verder geneem en die uitspraak gelewer.
In die uitspraak stel Blaauw dit duidelik dat Weise uit selfverdediging opgetree het en dat die hof beïndruk was met die getuienis en die kenners wat in die saak getuig het. Sy het dit duidelik gestel dat die plaaslike polisie nie die saak deeglik ondersoek het nie en dat die ondersoek veel te wense oorlaat.
’n Verligte Weise het aan Standard gesê hy is dankbaar die saak het tot ’n einde gekom, maar bygevoeg sy lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. “Ek het nie daardie dag opgestaan en besluit ek gaan iemand dood maak nie, maar ek moes optree om my lewe te beskerm. Hy was baie aggressief en sy aksies sou tot my dood gelei het as ek nie opgetree het nie.”
Weise sê hy het baie deur hierdie saak verloor.
“Die regskostes beloop amper ’n halfmiljoenrand. Ek het twee keer my werk verloor en my vrou het ná ’n stryd teen depressie haar eie lewe geneem. My finansies is uitgeput en ons moes ons dogter weens boeliegedrag by die skool Oos-Kaap toe stuur.”
Weise oorweeg dit om die saak verder te neem aangesien selfs die landdros en die hof bevind het dat die saak nie op ’n etiese wyse ondersoek is nie.
Hy beplan om Worcester dalk binnekort te verlaat, maar is dankbaar vir die ondersteuning van sy nabye mense en sy regspan.
“William Booth (sy prokureur) het hom goed van sy taak gekwyt. Daarvoor is ek dankbaar. Ek het baie mense naby aan my verloor, maar daar is diegene wat deur dik en dun by my gestaan het.
“Mense het dadelik gedink ek is skuldig en steeds sal ek as die skuldige uitgekryt word, maar om iemand se lewe te neem, was nooit my bedoeling nie. Dit was en is ’n stresvolle tydperk in my lewe,” het Weise gesê.



