Die moordsaak waarin ’n vuurwapen-instrukteur van Worcester teregstaan nadat hy na bewering ’n 29-jarige informele skrootversamelaar in 2018 in die nywerheidsgebied doodgeskiet het, word vandeesweek hervat terwyl die uitspraak heel moontlik binnekort gelewer sal word.
Die 48-jarige Elton Weise, wat teregstaan op ’n aanklag van moord, het na bewering op 20 Julie 2018 vir Johannes Jacobs (29) doodgeskiet in selfverdediging nadat Jacobs Weise se lewe volgens die verdediging buite die winkel in die nywerheidsgebied waar Weise op kontrak aangestel was, bedreig het.
Luidens die hofdokumente het Weise in hierdie tyd by die New Trend-vervaardigingsmaatskappy gewerk. Hierdie maatskappy vervaardig verskeie items uit staal vir konstruksie- en vervoerdoeleindes.
Die dokumente, soos aangehoor in die streekhof in Worcester, stel egter dat Jacobs en ’n familielid van hom ná ure toegang verkry het tot ’n groot vullishouer om staalafval sonder toestemming te vat. Die staal in die houer sou deur die maatskappy herwin word.
Volgens Weise se regspan het hy die slagoffer genader en gevra om nie die afval te vat nie. ’n Woordewisseling het uitgebreek en na bewering het Jacobs opstandig geraak. Hy het aangehou om Weise se versoek om die afval terug te plaas in die vullishouer te ignoreer en het volgens Weise gewelddadig begin optree. Hy het ook vermoedelik ’n staalpyp gevat en in Weise se rigting geswaai en ’n struweling tussen die twee het uitgebreek.
Dit is egter toe die oorledene na bewering ’n groot steen gevat en na Weise gemik het dat hy ’n vuurwapen uitgehaal het om in selfverdediging op te tree.
Jacobs is toe geskiet en het weens die skietwond gesterf.
Standard het twee weke gelede berig dat ’n bron na aan die slagoffer gesê het dat Weise eers na die gebou teruggegaan het om ’n vuurwapen te kry en toe in selfverdediging opgetree het. Nadat Standard noukeurig deur al die hofdokumente gewerk het, is dit duidelik dat hierdie bewerings onwaar is en geensins in die hof of enige getuienis bespreek is nie.
Die saak wat al sedert 2018 op die hofrol is, is ook onlangs na die streekhof in Paarl oorgeplaas. Standard verneem dat uitspraak op Vrydag 10 Maart gelewer sal word.
Daar was talle berigte en gerugte oor hoe hierdie saak ontvou het op die dag, maar die staat hou vol dat Weise moet boet vir die moord wat hy na bewering gepleeg het. Weise en sy regspan hou egter vol dat Jacobs se dood deur selfverdediging veroorsaak is.
Hulle het ook ’n aansoek om ontslag ingedien, maar dit is teengestaan. Talle getuies is aangehoor, maar die fokus is geplaas op dié van deskundiges wat kon saamstem dat die steen waarmee Weise bykans hard getref is moontlik tot Weise se dood kon lei, dus sinspeel hulle daarop dat hierdie feit die selfverdediging regverdig.
In verdere dokumente wat Standard onder oë gehad het, blyk dit ook dat alle prosedures nie gevolg is toe Weise in hegtenis geneem is nie en dat hulle hom nie wetlik en hoflik behandel het nie.
Verskeie weergawes van getuies is aangehoor en slegs die hof sal op die ou einde kan bepaal wie se weergawe die waarheid is.
Standard verneem ook dat Jacobs wel ’n lang geskiedenis het waarin hy menigmaal met die gereg gebots het.
’n Bron na aan Standard het bevestig dat Jacobs drie skuldigbevindings vir opsetlike saakbeskadiging agter sy naam gehad het, asook vier aanklagte van aanranding. Jacobs is in 2008 op ’n aanklag van gesinsgeweld skuldig bevind.
Mense na aan Weise het daarenteen aan die media vertel hoe ’n regverdige en gerespekteerde man Weise is, ’n man wat moes optree om sy eie lewe te verdedig.



