’n Plaaslike eiendomsagent van Worcester, oor wie Standard onlangs berig het en wat derduisende rande se skade gely het nadat ’n man verlede week glo in haar motor vasgejaag en toe weggejaag het, het uiteindelik daarin geslaag om ’n klagte by die polisie aan te meld.
Lisl Brink het Dinsdagaand 31 Januarie omstreeks 22:15 in Rabielaan na haar woning in Langerug gery toe ’n man van oorkant die pad teen ’n hengse spoed in haar vasgejaag het.
“Ek wou by Malanstraat indraai en die man het uit nêrens roekeloos aangery, die padtekens geïgnoreer en in my Opel Corsa vasgery. Hy het toe dadelik weggejaag en oor die brug in die rigting van die Drostdy-sentrum verdwyn. Ek het probeer om hom agterna te sit, maar hy het vinnig spore gemaak,” vertel sy aan Standard.
Sy het dadelik ’n klagte by die polisie aangemeld, maar is ingelig dat sy die registrasienommer gaan benodig om ’n klagte teen die bestuurder aan te meld.
Standard het kragte saamgespan en met behulp van G24 en die Breedevallei-plaaswag die bestuurder opgespoor en al sy besonderhede ingewin om Brink te help om die klagte aan te meld.
’n Gefrustreerde Brink se motor is afgeskryf weens die feit dat die skade as gevolg van die botsing die waarde van die voertuig oorskry.
Brink het ’n plasing op sosiale media gedeel en besonderhede van die grys/silwer Toyota Avanza wat teen haar motor gebots het, bygevoeg.
’n Ooggetuie het die vermeende voertuig Vrydagaand (3 Februarie) omstreeks 20:00 in die parkeerterrein van die drankwinkel in die Drostdy-sentrum gesien. ’n Video is geneem van die bestuurder in die motor, waarvan die neus heeltemal verwoes is.
In die video word gesien hoe die man, wat aankope in die drankwinkel gedoen het, probeer uitry, maar eers amper die heining van die sentrum tref. Hy ry dan weg en die video eindig. Dit is egter moeilik om die registrasienommer van die motor duidelik te sien.
Plaaslike veiligheidsfirmas het ook op kameras in die gebied gaan kyk, maar Standard verneem van die kameras was tydens beurtkrag buite werking. G24 kon egter met gevorderde tegnologie alle besonderhede opspoor.
Brink kon die klagte toe einde verlede week, ná bykans twee weke, aanmeld.
“Ek is dankbaar dat Standard en Nico Harmse van G24 my kon help en meer as die polisie of die verkeersafdeling kon uitrig. Ek hoop geregtigheid sal geskied,” het Brink bygevoeg.
Die plaaslike polisie het bevestig ’n klagte is aangemeld en alle leidrade word opgevolg.
“Alle klagtes oor die polisie en soortgelyke frustrasies moet aangemeld word,” het AO Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie verduidelik.
“Dit sal help om diens en deursigtigheid te verbeter. Ons sal altyd help waar ons kan. In verband met die saak kan ek bevestig die saak word deeglik ondersoek.”
Standard verneem die saak sal na verwagting na ’n aanklaer oorgeplaas word om oor vervolging te besluit.




