Vir 33 jaar al maak die Worcester Ekumeniese Gemeenskapsdiens (WEG) seker dat kinders veilig is.
WEG is destyds deur ds. Neville Swarts begin nadat hy die nood vir so ’n diens in die gemeenskap raakgesien het. Hy was toe by die VGK Worcester-Suid.
“Dominee Swarts het die behoefte in die gemeenskap gesien vir ’n organisasie wat die armoede en maatskaplike euwels binne die gemeenskap sou takel. Later het lede van verskeie denominasies by die organisasie aangesluit.
“Baie jare later, in 2003, is die organisasie as ’n kinderbeskermingsorganisasie sonder winsbejag geregistreer,” verduidelik Esmerelda Pekeur, WEG se voorsitter.
Die organisasie identifiseer behoeftige kinders, of kinders wat na ’n plek van veiligheid geneem word en tree in om die proses te behartig.
“Die organisasie fokus op kinderbeskerming en gesinsorgdienste. Ons werk in die buurte van Noble Park, Victoria Park, Riverview, Parkersdam, Florian Park, Johnson’s Park 1, 2, en 3 en ook in Lily Farm,” het Pekeur verduidelik.
Die organisasie stuur ook maatskaplike werkers uit waar dit nodig is.
“As daar ’n geval in een van ons buurte is wat ons aandag verlang, sal een van ons maatskaplike werkers uitgaan om die situasie te assesseer.”
Verdere doelwitte van WEG sluit in die voorkoming en intervensie rakende mishandeling, verwaarlosing, uitbuiting, blootstelling en geweld teen kinders. WEG fokus ook op bewaring van gesinslewe en voorkoming van gesinsverbrokkeling deur ’n ontwikkelings-benadering en bemagtiging en vermoë van pleeggesinne om voldoende sorg vir kinders in gevaar te verseker. Die implementering van ’n holistiese ontwikkelings-benadering deur programme wat die maatskaplike, fisieke en emosionele welstand van kinders aanpak en om die regte van kinders te bepleit en te bevorder om ’n veilige gesinsomgewing vry van geweld, mishandeling en verwaarlosing te vestig, is baie belangrik.
WEG skakel en koördineer ook met strategiese vennote vir toegang tot hulpbronne en om te verseker dat die impak van programme verbreed word.
Hulle spreek die basiese materiële behoeftes aan deur die voorsiening van kospakkies, klere en ander benodigdhede te behartig.
Skakel 023 347 5300 vir meer inligting.





