Motoriste word aangeraai om versigtig te wees as hulle op die N1 reis nadat talle motors onlangs onder dit klippe gesteek is.

“Ek en my man het Woensdag 20 Julie omstreeks 22:00 deur Worcester in die rigting van De Doorns gery. Sowat 10 km voor De Doorns het ons ’n helse slag teen die kant van die kar gehoor. Ons het twee mans in die truspieëltjie gesien en besluit om eerder aan te ry tot by die naaste vulstasie.”

Só vertel Carla Manuel, ’n inwoner van Rawsonville, aan Standard. Manuel en haar man was op pad na ’n troue in Johannesburg en het besluit om deur die nag te ry aangesien hulle gedink het die pad gaan stil wees.

“Ons is gou ontnugter. Ons reis was R2 500 duurder. Ons is net bly ons het nie stilgehou nie. Dit kon dalk erger gewees het en dis dalk wat hulle wou hê,” voer sy verder aan.

Die polisie het ook onlangs ’n waarskuwing uitgereik aan motoriste wat moontlik geteiken kan word.

“Moenie stilhou nie. Ry eerder aan en bel dadelik die naaste polisiekantoor,” lui die verklaring.

Manuel sê hulle het dadelik ’n klagte aangemeld, en hoop die skuldiges word vasgetrek.

Die N1 – veral tussen Worcester en De Doorns – is bekend vir plundery, vandalisme en gevalle waar motoriste deur onwettige vrugteverkopers geteiken word.

“Ons doen alles in ons vermoë om die omgewing, sy mense en motoriste te beskerm. Wees waaksaam en werk saam om ’n oplossing te kry,” lui die polisie se verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article