Só opgewonde was die 85-jarige tant Ellen Philander om verlede Vrydag haar kop in haar dogter se nuwe huis by die splinternuwe Transhex-behuisingsprojek neer te lê, dat sy al die Dinsdag begin pak het.
Maar, helaas, soos vele kere al in die verlede, moes sy en haar dogter, Jennifer, hoor dat dit nie op daardie dag gaan gebeur nie. Die “papierwerk is nie afgehandel nie”, het amptenare hulle meegedeel.
So ook vir die 44 ander begunstigdes wat Vrydag opgedaag het om hul sleutels in ontvangs te neem, soos hulle almal vroeër daardie week per brief ingelig is om te kom doen.
Trane van teleurstelling het mildelik gevloei, want tant Ellen en Jennifer wag al vyf jaar vir hul huisie.
Menige ander bouprojek oor die Kaap heen is al begin en afgehandel, sê Jennifer, maar dié een “wil net nie klaar nie”.
Jennifer het die oggend wat sy haar sleutels moes gaan afhaal, die wendyhuis waarin sy en haar moeder woon, laat afslaan. Dit het haar ’n klomp geld gekos.
Nou staan haar goed opgepak en reg om gelaai te word in die agterplaas van familie. Dit is waar sy en haar moeder al ’n geruime tyd in hul wendy woon.
Hulle smag na ’n plekkie van hul eie, “waar ’n toilet en lopende water en ’n regte kombuis is”.
Vrydagaand het tant Ellen maar in die kar geslaap – tussen ’n klompie van die pakgoed. Jennifer het in ’n stukkende vertrek van die familielid se woonhuis geslaap, wat hulle met seil probeer dig maak het.
“Jy sien,” sê sy, “die munisipaliteit het vir my gesê ek kan nie my sleutel kry voordat ek my wendy afslaan nie. Toe slaan ek hom af, want ek gaan mos nou my sleutel kry. Ek weet nie wat gaan ek maak as dit moet kom reën nie.”
Jennifer sê sy gaan haar prokureur oor die situasie spreek. Sy gaan ook nie haar wendy weer opslaan nie, want dit kos baie.
“Jy doen dit nie aan mense nie. Ons is nie honde nie; ons is ménse.
“Hulle moes ons net gister kom sê het ons gaan nie vandag (Vrydag) ons sleutels kry nie. Daar was een tannie wat tot haar hamer saamgebring het om haar gordyne vas te slaan. My seun het vroegdag al in die pad geval om ons goed te kom trek. Al daai koste is nou verniet.
“En die beste is, die burgemeester het nie eens self gekom om vir ons te kom sê ons kry nie ons huise nie. Ons het haar nie met ’n oog gesien nie.”
Tant Ellen sê haar rumatiek hou haar wakker. “Ek slaap nie in die nag nie. Nou dié. Hier sit ek al vir twee dae en wag vir ons huis,” beduie sy waar sy op die kombuisstoel tussen hul trekgoed langs die wasmasjien sit.
“Die Here slaap nie. Hy sien wat hier gebeur.”
Vir nou wag Jennifer en haar ma vir die “papierwerk om afgehandel te word”, met hul besittings uitgelewer aan die elemente.
Die Breedevallei-munisipaliteit sê hy het laatmiddag Donderdag, ’n dag voordat 44 begunstigdes van die nuwe Transhex-behuisingsprojek hul sleutels sou kry, verneem die huise se okkupasiesertifikate is nie uitgereik nie.
Daarom moes hulle Vrydag, toe die mense sleutels moes kry, eerder slegte nuus uitdeel.
JP Myburg, ’n munisipale woordvoerder, sê van die nakomingsvereistes van sommige wonings is nie afgehandel nie en die sertifikate kon nie uitgereik word nie.
Dit sou ’n groot risiko wees.
“Ons het wel aan die begunstigdes Vrydag reeds die geleentheid gegee om in te gaan en ’n gevoel vir die huise te kry. Van die kwessies wat deur die inspekteurs uitgewys is, word nou opgevolg. Sodra die kwessies opgelos en die okkupasiesertifikate uitgereik is, sal ons die huise kan oorhandig.”
Volgens die BVM was geen voorwaardes – soos dat ’n wendyhuis afgebreek moes word – aan die oorhandiging van die sleutels verbonde nie. “Die enigste voorwaarde was dat mense wat tans ’n munisipale eiendom beset, daar moet uittrek as hulle die nuwe behuising betrek. Dit is dus jammer dat die wendy in dié geval afgebreek is voordat die sleutels oorhandig is,” sê Myburg.
Die BVM sê die meeste mense het Vrydag die munisipaliteit se verduideliking oor die situasie aanvaar.
“Ons is baie jammer dat die oorhandiging nie kon plaasvind nie. Wat die burgemeester se afwesigheid betref – die BVM se burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings was wel daar. Sy het die mense toegespreek, ingelig en om verskoning gevra. Die burgemeester kon weens ’n baie druk program nie self daar wees nie.”





