Die afgelope Saterdag (29 Julie) se Grootuitdaag-wedstryd op Bolandpark in Worcester tussen Worcester Villagers (Villa) en Montagu-klub, of Hou by die Blou soos hulle in die volksmond bekend staan, het met 9 elk geëindig.
Die wedstryd is in regte eendeweer gespeel, met vlae reënbuie wat met gereelde tussenpose tydens die wedstryd uitgesak en hardlooprugby tot die minimum beperk het.
Aan opwinding het dit egter nie ontbreek nie, en met veral albei spanne se ondersteunerskorps wat hul onderskeie spanne luidkeels aangemoedig het, het die uitslag tot in die laaste minute in die weegskaal gebly.
Die wedstryd het teen ’n geweldige tempo afgeskop, met veral Hou by die Blou wat met sy swaarder pak voorspelers probeer het om sy stempel af te druk. Dit was egter Villa wat die eerste geleentheid gekry het om die rekening te open.
Ongelukkig het Austin Hendricks (losskakel) se strafskop-poging regs verby getrek. Kort hierna het Montagu-klub se linkervleuel, Hanro Ontong, met ’n netjiese strafskop geslaag om sy span met 3-0 te laat voorloop. Kort hierna het hy weer die kol getref en sy span se voorsprong na 6-0 gerek. Die agterstand het gekrimp toe Hendricks kort hierna self met ’n strafskop die kol tref, wat die rustydtelling op 6-3 in die span van Montagu se guns gelaat het.
Villa het kort hierna so byna-byna sy neus voor gekry toe die einste Hendricks ’n bal wat losgespat het, opgeraap, vorentoe geskop en agter die doellyn toegeval het. Die skeidsregter het egter beslis Hendricks het op pad doellyn toe ’n teenstander uit die pad gestamp.
Ná rustyd en met die weer wat stelselmatig versleg, het Villa nog ’n strafskop gekry, wat Hendricks oorgeklits het om sake met ses punte elk gelykop te maak. Kort hierna het Villa die eerste keer sy neuse voor gekry toe Hendricks met nog ’n strafskop geslaag het. Montagu het egter nooit bes gegee nie en is met ’n strafskop beloon, wat Ontong in punte omgeskep het om sake weer gelykop te maak – 9 elk. Villa het kort voor die einde weer ’n geleentheid gehad om die wedstryd in sy guns te beklink toe Hendricks weer aangelê het pale toe, maar sy skop links verby was en die wedstryd 9 elk geëindig het.




