Elizabeth Basson (Wolseley-buurtwag), Reagen Allen, Nico Southey en Eben Basson (albei van Wolseley-buurtwag).


Altesame sewe vredes-beamptes van die Witzenberg-streek wat deelgeneem het aan ’n vredesbeampte-program het verlede week gegradueer toe sertifikate ná voltooiing van die program aan hulle oorhandig is.

Die Veiligheids- en Sekuriteitsektor Onderwys- en Opleidingsowerheid-sertifikaat gaan gepaard met ’n 12-maande uitgebreide openbare werke program-kontrak / internskap binne die munisipaliteit.

Die oorhandiging wat plaasgevind het in die Ceres-stadsaal is behartig deur die Wes-Kaapse LUR vir polisie-oorsig en gemeenskaps-veiligheid, Reagen Allen.

Die funksie van ’n vredes-beampte is om – soos ’n polisiebeampte – reg en orde te handhaaf.

Allen sê die program vorm deel van die Wes-Kaap se veiligheidsplan wat die versterking van munisipale wetstoepassingskapasiteit oor die Wes-Kaap heen prioritiseer, met die doel om stedelike en landelike veiligheid te verbeter en misdaad in gemeenskappe te bekamp.

Hy sê die program wat van 6 Februarie tot 17 Maart op die Porter-landgoed in Tokai aangebied is, het aan deelnemers die geleentheid gebied om die rol en funksie van ’n vredesbeampte en verkeersbeampte te verstaan.

Aspekte wat in die program gedek is, sluit in wetstoepassing en die Grondwet van Suid-Afrika 108 van 1995, die beginsels van strafreg en reëls met betrekking tot die interpretasie van die wet, asook ’n oorsig van die strafproses-wet.

Nog onderwerpe wat gedek is, sluit in die nasionale padverkeerswet met betrekking tot verkeersbeamptes, Bylae 1- en 3-oortredings, bewysreg en strafhowe asook die eerbiediging van professionele gedrag en organisatoriese etiek.. Later die dag het die LUR hulpbronne, waaronder ’n noodhulpkissie, T-hemde, glinsterbaadjies, waterbottels, fakkels, twee fietse, ’n stoorkas en buurtwag-banier by die Wolseley-biblioteek aan die Wolseley-buurtwag oorhandig sodat hulle in staat is om misdaad meer doeltreffend te kan bekamp.

Elizabeth Basson, voorsitter van die Wolseley-buurtwag, sê: “Ons is baie dankbaar vir die hulp van die departement wat ons toerus met die nodige.

“Ek glo ’n mens moet in jou eie buurt ’n verskil begin maak of betrokke raak by jou dorp se buurtwag.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article