Die kragopwekkerstelsel om ononderbroke water- en sanitasiedienste aan inwoners van die Breedevallei te bied, is goed op dreef.

Dit danksy die Wes-Kaapse regering se departement van plaaslike regering wat vroeër vanjaar sekere bykomende projekte geïdentifiseer het wat gefinansier moet word ingevolge sy Nood- Munisipale Beurtkrag-verligtingstoelae vir die boek- jaar 2022-’23.

Die doel met hierdie geld is vir die munisipaliteite in die Wes-Kaap om rugsteun-energievoorsiening te verkry en te installeer as ’n onmiddellike reaksie op die langdurige beurtkrag om die impak op basiese dienste te versag.

As gevolg hiervan is ’n bedrag van R950 000 aan Breedevallei-munisipaliteit toegeken.

Juis weens beurtkrag word munisipaliteite se waterwerke negatief beïnvloed, wat baie inwoners uiters gefrustreerd laat wanneer pompstasies nie werk nie en die rioolstelsel misluk hieroor.

Met hierdie finansiële hupstoot het die Breedevallei-munisipaliteit besluit om rugsteunkragopwekkers vir die volgende kritieke water- en afvalwaterpompstasies aan te koop en te installeer: De Doorns-pompstasie (waterwerke) 400 kVA, Avian Park-pompstasie (riool) 450 kVA, Noble Park-pompstasie (riool) 25 kVA, Santa Weida-pompstasie (riool), Zwelethemba-pompstasie (riool) 35 kVA.

Hierdie finansiering wat ontvang is, is egter nie voldoende nie en die munisipaliteit het ’n bykomende R11 735 000 as mede-finansiering vir die projek toegeken.

Die tenderproses is voltooi, en ’n kontrakteur is reeds in Maart aangestel.

Die kleiner kragopwekkers is aangeskaf en word tans getoets vir voorbereiding vir ingebruikneming teen vroeg-Augustus. Die oorblywende, groter kragopwekkers sal na verwagting vroeg in September toetsing en ingebruikneming ondergaan.

Die projek is nog op dreef om teen 18 Oktober vanjaar voltooi te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article