Probleme by die Transhex-ontwikkeling is al sinoniem met gure weer.
Met die onlangse swaar reën het inwoners weer gekla oor water wat by hul huise inkom. Die munisipaliteit sê egter hy het nog geen amptelik klagtes van inwoners ontvang nie.
“Ons is nie bewus van enige blokkasies nie en het geen klagtes informeel of via die diensondersteuningsentrum ontvang nie. Die BVM se paaie-en-stormwater-afdeling het wel die stormwater-infrastruktuur in en om Transhex beoordeel, maar kon geen defekte of diensfoute vind nie.”
’n Inwoner sê egter daar lê geen water in sy agterplaas nie, maar dit sypel glo deur die vloer in.
“Hier is niks water in die agterplaas nie, maar water stroom onder die fondasie in,”verduidelik hy.
Die munisipaliteit se hy bly proaktief in terme van stormwater-infrastruktuur.
“Stormwaterinfrastruktuur en -stelsels word proaktief skoongemaak as deel van die wintergereedheidsprogram, met veral klem op brandpuntgebiede wat geneig is tot gelokaliseerde oorstromings. Daar moet egter kennis geneem word dat, ten spyte van ons proaktiewe instandhoudingspogings, gelokaliseerde oorstromings steeds kan voorkom in unieke en uiterste weervoorvalle, soos onlangs ervaar is. Ons het eksponensiële volumes water in ons stormwater-infrastruktuur en -stelsels wat bygedra het tot gelokaliseerde oorstromings in sommige woongebiede.”
Die BVM verduidelik ook omdat die huise aan begunstigdes oorgedra is, is dit dus private eiendom.
“Die bestaande topstrukture in Transhex is aan die kwalifiserende begunstigdes oorgedra en is dus private eiendom. As gevolg hiervan is die BVM nie aanspreeklik vir herstelwerk en/of instandhouding van hierdie topstrukture nie. Die BVM is slegs verantwoordelik vir BVM-eiendom, dit wil sê huureenhede, wat hierdie strukture by Transhex nie is nie.
“Indien ’n verbruikersklagte verband hou met ’n munisipalediensfout of kwessie, sal dit ingevolge sy mandaat na die BVM verwys word.
“Indien die klagte egter die verantwoordelikheid van die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur is, sal dit na hulle verwys word,” verduidelik Botha.
Die departement van infrastruktuur meen egter hy is nie bewus van probleme by die ontwikkeling nie, hoewel die inwoner sê verskeie huise is verlede jaar deur verskeie hoës besoek.
“Verlede jaar het ons die owerhede in die einste huis gehad. Mense het uit Johannesburg gekom om die huis te kom inspekteer. Hulle was kamma ongelukkig oor hoe dit lyk, maar dis nog dieselfde,” het die inwoner verduidelik.
’n Woordvoerder van die departement het na aanleiding van Standard & Gazette se navraag gesê hulle gaan met die BVM in verbinding tree.
“Die departement sal met amptenare van die Breedevallei-munisipaliteit skakel om bykomende inligting in te samel en die oorstroomde erwe identifiseer. Vervolgens sal ’n inspeksie van hierdie eiendomme gereël word om die omvang van die probleem te bepaal,” het Ntobeko Mbingeleli, woordvoerder vir die minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, verduidelik.
Verder sê hy ná gesprekke met die munisipaliteit en ’n inspeksie sal ’n verslag saamgestel word om die pad vorentoe aan te beveel.





