Flip van der Berg van Young Warriors storm vorentoe met die bal in ’n poging om twee Puma-verdedigers te klop in die twee spanne se Sanlam Boland Super 10-uitspeelwedstryd.Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Die Sanlam Boland Super 10-uitspeelwedstryd tussen Young Warriors van Montagu en die Pumas- rugbyklub van Ceres verlede Saterdag op die King Edward sportterrein was ’n harde stryd. Nie een van die spanne het maklik toegegee nie.

Pumas het vroeg voorgeloop met ’n skepskop om die telling op 3-0 te bring.

Warriors het die telling daarna gelykop gemaak met ’n strafskop, maar Pumas het weer met ’n strafskop voorgeloop (6-3).

Warriors het ’n drie gedruk om die telling na 8-6 in hul guns te verander.

Kort daarna het hulle weer gaan druk en die telling tot 15-6 vergroot.

Pumas het die tuisspan se geelkaart benut om hul eerste drie aan te teken en die telling te verklein tot 15-13.

Warriors het teruggekap en ’n verdoelde drie gedruk om 22-13 voor te loop.

Net voor rustyd het Pumas egter met ’n drie geantwoord om die rustydtelling op 22-20 te bring.

Ná waterdrinktyd het Pumas met ’n strafskop die voortou oorgeneem (23-22), maar Warriors het teruggeveg en weer voorgeloop met ’n verdoelde drie (29-23).

Pumas het kort voor die einde ’n drie gedruk en 30-29 voorgeloop.

In ’n dramatiese einde het Warriors met ’n 50/22-skop die bal in Pumas se kwartgebied gevat, ’n lynstaan geneem en ’n pragdrie gedruk om die wedstryd 34-30 te wen.

Young Warriors dring deur na die volgende ronde teen Standards Bredasdorp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article