’n Young Warriors-speler sit op loop met die bal, terwyl Blue Swallows-verdedigers hom agternasit. Warriors (voorloper) het die Gemeenskapskild-Langeberg-ligawedstryd verbasend maklik teen Swallows (2de plek) met 31-3 gewen.Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Twee spanne in die Gemeenskapskild-Langeberg-afdeling, Young Warriors van Montagu en Blue Swallows van Ashton, het mekaar Saterdag (25 Mei) op die King Edward-sportterrein in Montagu in albei se laaste eersterondewedstryd aangedurf.

Met Warriors wat die voorloper in dié afdeling is en Swallows wat die tweede plek op die punteleer beklee, het dié ligawedstryd, wat sou bepaal wie die eerste ronde in die topposisie klaarmaak, groot belangstelling ontlok en is voor ’n redelik groot skare gespeel.

Op die ou einde het Warriors die kragmeting eintlik verspot maklik met 31-3 gewen en sy oorheersing in die afdeling beklemtoon. Die rustydtelling was 19-0 in die tuisspan se guns.

Swallows het van die begin af ’n opdraandestryd gevoer en was van vroeg af onder hewige druk. Die besoekers is veral in die skrums deur Warriors gekarnuffel.

Die skeidsregter het ’n strafdrie vroeg in die wedstryd aan Warriors toegeken.

Swallows was onder druk en het verskeie oortredings, wat verhoed het dat die tuisspan punte kon behaal, op sy doellyn begaan.

Boonop moes die besoekers in die eerste helfte vir twintig minute met 14 man speel nadat twee van sy spelers weens gevaarlike duikslae met geelkaarte gestraf is.

Die tuisspan moes egter self in die eerste skof vir tien minute met 14 man oor die weg kom nadat sy agsteman vir ongeoorloofde spel van die veld gestuur is.

Warriors het egter namate die wedstryd verloop het, die besoekers heeltemal oordonder en vier drieë – waarvan twee verdoel is – gaan druk. Dit het die tuisspan in staat gestel om die wedstryd as’t ware op ’n drafstap te beklink.

Swallows, wat deurgaans moedig probeer het, kon in die tweede helfte slegs ’n skepdoel deur die pale klits.

Young Warriors het met dié sege die enigste onoorwonne span in die Gemeenskapskild-Langeberg-afdeling geword en sluit die eerste ronde in die topposisie in dié afdeling af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article