Die vrywilligers van Hand a Smile wat sop uitgedeel het, was Izaan Theron, Hanno Smith, Carla Briel, Anke van der Merwe en Elzaan Matthys.


’n Nuwe organisasie sonder winsbejag, Hand a Smile, beywer hom daarvoor om mense – veral op plase – te help deur kos uit te deel waar hulle dit nodig het.

Hanno Smith, een van die stigterslede, sê hul span het Saterdag op plase rondom Bonnievale gaan sop uitdeel en ook sommer vir ’n paar mense op die dorp gegee. Altesaam 159 mense is gehelp.

“Ons wil definitief in ons volgende uitreik meer mense voed, want daar is nog baie mense wat dit nodig het,” sê Smith.

Die plan is om nie net op plaasmense te fokus nie. “Ons glo dis net die begin van iets groots, en ons gaan in Junie kyk om ook ’n tafel in die dorp op te slaan.”

Smith sê die eerste uitreik is na plase gedoen omdat hy self ’n plaaskind is. “Ek weet daar heers ’n groot behoefte aan voedsel vir die mense en kinders wat op plase woon en werk. Daar is groot nood omdat baie plase ver uit die dorpe geleë is en hulle dan as gevolg daarvan nie elke dag kan gaan kos koop nie. Almal het ook nie hul eie voertuie nie.”

Die organisasie se grootste skenking kom op die oomblik van Winelands Free Range Chicken asook van Albany Bakeries.

Hulle kry ook kleiner skenkings, wat soms net-net genoeg is vir die bestanddele.

Die hoender wat hulle kry, kom in die sop en die brood word saam met die sop uitgedeel.

“Ons glo ons moet enige skenking wat ons kan kry, gebruik en dankbaar wees daarvoor; dit maak nie saak wat dit is nie. Vir ons om nog sulke uitreikaksies te hou en kos uit te deel, kort ons baie meer bestanddele.”

Mense wat graag betrokke wil raak, kan die organisasie by 082 441 5949 kontak, of stuur e-pos na info@handasmile.co.za.

Smith bedank alle vrywilligers, ongeag die organisasie waaraan hulle behoort, vir hul diens aan die gemeenskap en almal se harde werk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article