Die Smalblaarrivier by Rawsonville verlede week in vloed ná swaar reën. Foto’s: Enrico Claassen


Die organisasie Gift of the Givers – die grootste ramp-reaksie-organisasie sonder winsbejag in Afrika – het vroeër hierdie week (Maandag 19 Junie), noodvoorraad aan inwoners van informele nedersettings in Rawsonville uitgedeel.

Dié inwoners se informele strukture het swaar onder die onlangse swaar reën deurgeloop.

Die Smalblaarrivier het ook sy walle oorstroom en tientalle informele wonings is hierdeur geraak.

Ali Sablay van Gift of the Givers het aan Standard gesê die Breedevallei-munisipaliteit en Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het hulle verlede week Woensdag (14 Junie) gekontak.

Al twee munisipaliteite het die organisasie versoek om met noodvoorraad vir die talle inwoners wat geraak is, te help.

Volgens hom wou die Gift of the Givers-span reeds die volgende dag, verlede Donderdag, die noodvoorraad aan die slagoffers in Rawsonville kom uitdeel.

Hy sê dit was egter onmoontlik omdat bergpasse in die streek ná die storms onbegaanbaar was.

Volgens Sablay het Gift of the Givers Sondag met beamptes van verkeersdienste en rampbestuur vergader en wetstoepassingsbeamptes het hul nooddienswerkers die volgende dag in stormweer tot in Rawsonville vergesel.

Sablay sê noodvoorraad, waaronder matrasse, komberse, toiletware, kospakkies en babasorgprodukte, is aan die inwoners wat geraak is, uitgedeel.

Hy sê altesame 1 280 inwoners en 300 informele wonings van die informele nedersettings Spokiesdorp, Geelkampies, Riverbank en Nakatabos, is deur die swaar weer geraak.

Die betrokkenes sou tot gister (21 Junie) in die saal van die Verenigde Gereformeerde kerk in De Nova gehuisves word.

Ashley Joseph, ’n wykskomiteelid van die Spokiesdorp- informele nedersetting, sê die inwoners plaas die skuld vir die oorstromings weens die storms voor die deur van die Breedevallei-munisipaliteit (BVM).

Hy sê die BVM se beweerde traagheid om gehoor te gee aan die jare lange voortdurende noodkrete van dié kwesbare inwoners om die wal van die Smalblaarrivier te verhoog, het hulle later genoop om hulle tot die menseregtekommissie (MRK) vir leiding in dié verband, te wend.

Joseph sê die rivier oorstroom elke jaar sy walle, maar verlede week se oorstromings was die ergste nog.

Hy sê gelukkig was daar geen lewensverlies of beserings nie.

Volgens hom pleit hy en ander gemeenskapsleiers van dié informele nedersettings nou al vir sowat nege jaar by die BVM om die wal van die Smalblaarrivier te verhoog of om alternatiewe grond vir dié inwoners beskikbaar te stel.

Joseph, wat ook lid is van die werkerskomitee wat met die BVM in gesprek is, sê al die vergaderings wat hulle tot nou met dié munisipaliteit gehad het insake die gevaar wat die Smalblaarrivier vir inwoners van die informele nedersettings inhou, het op niks uitgeloop.

Volgens hom sê die BVM glo aanhoudend aan hulle die verhoging van die oewer sal ’n hele proses wees wat gevolg moet word.

Hy sê verlede Maandag (12 Junie) – ’n dag voor die groot storm – het die BVM die werkersgroep meegedeel dat die wal van die Smalblaarrivier wel binnekort as tydelike oplossing verhoog gaan word.

Toe Standard die Spokiesdorp-informele nedersetting verlede Woensdag (14 Junie) besoek, het paniekbevange inwoners met van hul kosbare besittings wat hulle kon red, rondgehardloop op soek na skuilplek.

Joseph sê die BVM weet glo Spokiesdorp lê in ’n vleiland, maar die stadsvaders het inwoners nietemin toegelaat om daar te gaan woon.

Hy sê die werkerskomitee het in September verlede jaar die eerste keer ’n skrywe aan die MRK gerig, omdat inwoners wat daardeur geraak word, se menswaardigheid aangetas word.

Hy sê die komitee, die BVM en die MRK het in Februarie en Maart vanjaar vergader met die doel om oplossings te vind.

Die onderskeie partye sou gister weer vergader.

“Ons wil hê die menseregtekommissie moet die Breedevallei-munisipaliteit aanspreeklik hou vir wat aangaan.

“Hulle het geweet dis net ’n kwessie van tyd voordat die rivier sy walle gaan oorstroom,” sê Joseph.

Volgens hom is inwoners ook te vinde vir ’n stuk grond wat bokant die vloedlyn is.

Joseph sê voorts inwoners sal hul eie huise kan bou indien ’n stuk grond deur die munisipaliteit aan hulle beskikbaar gestel word.

Francois Ruiters, ’n wykskomiteelid van die Geelkampies- informele nedersetting, stel voor die munisipaliteit moet naby die ou N1-snelweg gaan ondersoek instel vir beskikbare grond vir alternatiewe huisvesting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article