Ek wil my storie begin om te vra waar gaan oumense heen wat nie meer vir hulself kan sorg nie en wat nie geld het nie?
My skoonma het Woensdag 17 April inmekaargestort en ons het haar inderhaas hospitaal toe geneem. Sy het voor die tyd niks makeer nie – [sy was] perdfris en gesond en kon na haarself omsien.
Die dokter het ons ingelig dat sy erge hart- en nierversaking het. Sy was baie swak en het nie gepraat of gereageer nie. Sy was daar tot Sondag 28 April en is toe ontslaan. By die huis kon ons sien dis nie dieselfde ma wat ons ken nie. Sy moet na die badkamer begelei en gehelp word om te stort en sy kan nie vir haar self kos of drinkgoed maak nie. Ons het haar nou in ’n loopring dat sy nie val nie, maar dit sukkel maar.
Ons het eers die dominee by Worcester Oos NG Kerk-gemeente gebel (sy is daar in die kerk) en ds. Dennis Douglas het vir ons gesê ons moet maar die ouetehuise bel en “sterkte”. Geen verdere hulp is aangebied nie en die kerk het ná daardie oproep nog nie eens een keer gebel om te hoor of Ma nog oukei is nie.
Ons bel toe die ouetehuise waar sy al reeds jare op die waglys is, maar tot dusver was dit nog nie nodig vir haar om te gaan nie, tot ná die onlangse episode. Die man by Huis Andries Hammen het – toe hy hoor ons het nie geld nie en ma trek Sassa – gevra: “Wie gaan dan die rekening van R10 550 per maand betaal?” Ons het per e-pos gevra of ’n subsidie of so iets beskikbaar is nie, maar het tot nou toe geen terugvoer gekry nie. Huis Brevis het reguit gesê hulle het nie nou plek vir Sassa-begunstigdes nie.
’n Gawe vrou van Huis Nuwerus het gesê my vrou moet haar ma bring vir ’n onderhoud om te sien watter soort sorg sy nodig het. Ons moet nog gaan, maar daar gaan vir seker ook kostes wees.
Ons het tuisversorgers ook probeer, maar dit is R12 000 plus per maand. Ons probeer nou maatskaplike werkers, maar dit lyk my dis ook ’n langdradige proses.
Ma is nou by die huis. Ek en my vrou werk en ons hoop maar sy kom niks deur die dag oor nie. My vrou probeer maar wegglip by die werk om net te kom kyk of sy oukei is.
Ons is raadop en wil graag weet hoe maak ander mense met hul ouers as hulle nie meer vir hulself kan sorg nie en hul ouers en hulself nie die R10 000 plus per maand het om vir ’n ouetehuis te betaal nie? Waarheen gaan ’n mens as jy oud is en jy het versorging nodig en jy het nie geld nie?
Ons is moedeloos en dink aan al die ander oumense daarbuite.




