“Hoe gaan ons hierdie krisis oorleef? Hoe moet ons ’n bestaan maak en bloot net ons werk doen om aan die lewe te kan bly?”

Só vra Nirena Beukman, ’n inwoner van Rawsonville, wat ’n tuisonderneming bestuur en soos talle ander gebuk gaan onder die impak wat beurtkrag op gesinne en ondernemings het.

Beukman bestuur al sedert 2017 ’n bakkery van die huis af en maak weekliks staat op hierdie inkomste om na haar en haar dogter om te sien.

Die enkelma verduidelik sy weet nie meer hoe om kop bo water te hou nie.

“Nes jy dink jy kom weer voor en beurtkrag gaan nie hierdie week ’n impak hê op jou werk nie, dan verras Eskom jou – somtyds sommer net ’n uur voordat die krag afgaan. Dan moet ek skarrel en planmaak, want ek moet die balans tussen varsheid en die moontlike werkstyd wat beurtkrag belemmer, behou.”

Sy verduidelik verder hoe sy al deurnag moes werk om net haar bestellings te kan voltooi en al twee yskaste en ’n stoof weens beurtkrag verloor het.

Die nasionale kragvoorsiener het verlede week die eerste keer in maande weer fase 6-beurtkrag begin toepas nadat talle kragopwekkingseenhede by verskeie kragstasies in die land net bloot gefaal het.

Inwoners van die Breedevallei is – nes die res van die land se inwoners – keelvol vir beurtkrag, en veral die impak wat dit op werksaamhede het. Gesinne moet ook versigtig beplan om basiese take te kan verrig en leerders moet maar by kerslig leer vir die eksamens wat nou aan die gang is.

Elsa Pretorius van Worcester verduidelik dat haar twee kinders elkeen tans besig is met eksamens en saans by kerslig of die selfoon se flitslig moet leer

“Ons kan bloot nie ’n kragopwekker bekostig nie. Hul skoolwerk is vir hulle belangrik en daarom probeer hulle alle tyd benut om te leer – al is dit maar by kerslig. As die krag aan is, word hul tyd gebruik om take op die rekenaar klaar te maak, en as dit af is, moet hulle maar leer soos hulle kan. Ek kry hulle vreeslik jammer. Ek weet nie hoe doen die matrikulante, wat tans rekordeksamen skryf, dit nie,” sê Pretorius.

Hoewel Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, die land Sondag toegespreek het, is geen vermelding gemaak vir wanneer die krisis opgelos sal word nie. Intussen (teen druktyd) is beurtkrag na fase 5 verminder. Dit maak ook nie veel van ’n impak nie.

Gerugte doen ook die ronde dat Eskom en Nersa teen volgende jaar ’n heffing op die huidige kragprys wil plaas, wat dan sal beteken dat die prys van elektrisiteit met 30% sal styg.

“Nou moet ons nog meer betaal ook. Hoe maak dit enigsins sin? Ons kan skaars nou staatmaak op elektrisiteit. Dit is ’n skreiende skande,” voeg Pretorius by.

Talle sakeondernemings in die dorp maak staat op kragopwekkers, en met die huidige dieselprys is hierdie luuksheid ook besig om ’n kopseer te veroorsaak.

Talle kleinsakeondernemings in die vallei gaan gebuk onder die impak van beurtkrag aangesien hulle nie opwekkers of die nodige brandstof kan bekostig nie. Hulle het geen keuse as om hul deure soms vroeër te sluit of in daardie stadium maar werk te doen wat nie krag vereis nie.

Wat sê ons lesers?

. “Dit raak ons erg. Die president het dan sulke mooi praatjies gehad, maar nou is dit fase 5- en fase 6-beurtkrag. Jou yskas loop af, die kinders is honger, die kos is yskoud en jy kan geen sport kyk nie.” – Johan van Wyk

. “Dit maak my siek, want hoe moet ’n mens werk om geld te verdien as die krag aanmekaar afgesit word?” – Hillery Otto

. “[Dis] tyd dat Worcester weer sy eie kragstasie kry – soos jare gelede – [met] mense wat weet om dit te bestuur en te onderhou.” – Ludi de Bruyn

. “Dit is absoluut belaglik. Die krag moet steeds elke maand betaal word. Hoe moet ’n mens se elektriese goed hou? Wat van die mense wat afhanklik is van suurstofmasjiene en ander gesondheidsapparate? Dis ’n uiterste skande.” – Marietjie Fouché

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article