De Kruine Sekondêre Skool in Touwsrivier het die afgelope twee weke hewige opslae gemaak toe dit blyk die skool het versuim om drie onderwysers, wat op 18 Januarie veronderstel was om by dié skool aan te meld, aan te stel.

Volgens Bronagh Hammond, ’n kommunikasiebeampte by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), is ’n optog gehou waar leerders, ouers, en distrikspersoneel op 8 Februarie voor die skool se hekke saamgetrek het om dié probleem te bespreek.

Millicent Merton, ’n woordvoerder vir die WKOD, het per e-pos aan Standard verduidelik die poste wat nog nie gevul is nie, is vir natuurwetenskappe (grade agt en nege), lewenswetenskappe (grade 10 tot 12) en fisiese wetenskappe (graad 12).

Van hierdie vakke is die poste vir natuurwetenskappe en lewenswetenskappe gevul met “permanente” onderwysers, wat op 13 Februarie begin het, het Merton gesê.

Die pos vir fisiese wetenskappe vir gr.12 moet nog gevul word, het Merton gesê, en bygevoeg “hulle [die skool] sal [intussen] aan ’n gemengdeleer-benadering saam met die kurrikulum-adviseur werk “sodat geen leerder benadeel word nie”.

Volgens Hammond kon die skool se beheerliggaam nie tot ’n besluit kom oor hierdie aanstellings nie, en as gevolg daarvan is die pos nie aan die begin van die nuwe skooljaar gevul nie.

Hammond het verduidelik die WKOD sal stappe teen De Kruine Sekondêre Skool se beheerliggaam doen, maar sy het nie uitgebrei oor wat dit kan behels nie. “Dit sal gekommunikeer word wanneer die aksie eers geneem is.”

Standard het die WKOD gevra hoekom die departement nie vroeër ingegryp het nie, maar het geen antwoord op dié vraag ontvang nie.

Volgens ’n ouer van De Kruine Sekondêre Skool, wat nie sy naam genoem wil hê nie om viktimisasie van sy kind te voorkom, sukkel die skool al ’n geruime tyd onder swak bestuur.

Die ouer het ook gesê “die skool kommunikeer nie met ouers oor die huidige situasie nie” en “die ouers wil net weet wat aangaan”.

Volgens die ouer het die skool ook al langer as ’n jaar nie ’n permanente hoof nie.

Merton het bevestig die skool het wel ’n waarnemende hoof en het gesê die proses om ’n permanente hoof aan te stel, is aan die gang.

Volgens haar is die pos verlede jaar reeds geadverteer, maar die werwingsproses is nog nie afgehandel nie.

Standard se pogings om na die waarnemende hoof, Michelle Fredericks, uit te reik, was onsuksesvol. Die skool se landlyn asook Fredericks se selfoonnommer is geskakel, maar sy was nie beskikbaar nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article