Minute voordat ’n vyfjarige meisie van Worcester gesterf het nadat ’n wit Toyota-bakkie haar omgery het, het sy haar ogies oopgemaak, vir haar familie geglimlag en toe die tydelike met die ewige verruil.
Die ongeluk waarin Roczan Jacobs gesterf het, het Sondagoggend tussen 10:00 en 11:00 op die Robertson-pad oorkant die Kibbutz El-Shammah en ’n hanetree van haar ouerhuis gebeur.
Haar ouerhuis is langs die Robertson-pad, knap langs Kleinplasie, geleë.
Roczan was ’n gr. R-leerder by Roodewal Primêre Skool. Sy sou haar sesde verjaardag op 3 Oktober gevier het.
Die oorledene se ma, Helouise Jacobs, se niggie, Cathleen van Wyk, sê aan Standard Roczan en Cathleen se tienjarige dogter, Miché, het Sondagoggend kort voor die ongeluk nog buite die huis gespeel.
Sy sê die twee meisies was baie geheg aan mekaar.
Volgens Van Wyk se ma, Hendriena Adams, was Roczan en Miché op pad kafee toe om vir hulle lekkernye te koop. Om by die kafee uit te kom, moes hulle die Robertson-pad oorsteek.
Van Wyk vertel verder dat Miché vir Roczan aan die hand vasgehou het. Volgens haar het Roczan losgeruk en die pad oorgesteek, waarna die bakkie haar getref het.
Sy sê ’n geskokte Miché het ná die ongeluk uitasem by die huis aangehardloop gekom en kom sê Roczan is omgery.
Volgens Van Wyk het sy en nog ’n familielid, Carol de Lilly, hulle na die ongelukstoneel gehaas.
“Toe ons by die pad kom, toe sien ons sy is omgery.”
Van Wyk sê Helouise was in daardie stadium nie tuis nie, maar iewers in Roodewal om iets te gaan haal.
Volgens haar het Adams se niggie, ene Anida, vir Helouise gaan roep en haar die tyding gegee. Helouise is tans sewe maande swanger.
Van Wyk sê Helouise was histeries en het twee keer by die ongelukstoneel flou geval.
Volgens Van Wyk het sy en De Lilly aanhoudend na Roczan geroep daar waar sy in die pad gelê het. Ek het vir haar gesê: “Hier is nanna Carol, hier is nanna Cathleen.”
Sy sê Roczan het toe haar kop probeer oplig en vir hulle geglimlag, maar is kort hierna oorlede.
AO Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag. Volgens haar is niemand nog in hegtenis geneem nie.
Roczan se begrafnisdiens word Saterdag om 09:00 in die Ou Apostoliese Kerk in Roodestraat gehou.




