“Sleg; so ’n bietjie ontsteld!” beskryf ’n inwoner sy gevoel nadat ’n motoris – die vyfde vanjaar – Sondagoggend in die muur om sy erf vasgery het.
Die voorval het op die hoek van Le Seuerstraat en Leipoldtlaan gebeur en is boonop nie die eerste keer dat ’n motoris in dié huis se muur vasry nie.
Motoriste jaag glo dikwels in Leipoldlaan af, verloor beheer oor hul motors en ry dan deur die muur oorkant die pad.
Die inwoner van die huis waar die voorval gebeur het, verkies om nie sy naam te noem nie en sê hulle is nou raadop omdat dit die vyfde voorval vir die jaar is.
“Ons het al die vorige kere met die munisipaliteit gesels, maar daar het dadels van gekom,” sê hy.
AO Vathiswa Jacobs, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê ’n bestuurder van ’n swart VW Golf het Sondag 22 Mei omstreeks 01:25 deur die muur gery. Hy was glo onder die invloed van drank.
Jacobs sê die verdagte is aangekla en sal in die Worcester-landdroshof verskyn.
“Botsings is iets waaroor ons nie beheer het nie. Almal maak foute, maar wat kommerwekkend is, is die feit dat dit die vyfde keer vanjaar plaasvind,” sê een van die inwoners.
“Ons reik uit na mense om ons te help – dalk in die vorm van spoedwalle. Maar ten spyte hiervan kry ons geen terugvoering nie.”
Nog ’n inwoner wie se huis in die gebied ook al deurgeloop het, het bevestig hulle moet geld bestee weens skade wat hulle nie self aanrig nie.
Prichila Johanneson, nog ’n inwoner, sê dis dieselfde drie huise wat gereeld deurloop. Hierdie inwoners sê hulle het al telkemale na die wyksraadslid uitgereik, maar ten spyte hiervan “reageer hy doodeenvoudig nie”.
Hulle sê raadslede van ander wyke help soms, maar nie hul eie wyk se raadslid nie.
Navraag is aan die Breedevallei-munisipaliteit en die wyk se raadslid, Joffrey Jack, gestuur nadat die inwoner gesê het hy het die probleem vantevore onder die munisipaliteit se aandag gebring.
Jack het aan Standard gesê hy sou Dinsdag 24 Mei met die mense wat verantwoordelik is vir die paaie tot by die inwoner gaan om vas te stel wat gedoen kan word.




