Elaine Marais by haar boekbekendstelling wat Vrydag plaasgevind het. Op die foto teken sy ’n boek vir een van haar lesers.


’n Plaaslike onderwyser het verlede week haar vyfde boek vrygestel.

Elaine Marais, ’n onderwyser by die HTS Drostdy, gee al tien jaar lank boeke uit.

“Voordat ek my eerste boek uitgegee het, het ek baie kortverhale geskryf,” verduidelik sy.

Haar nuutste boek, ’n Droomhuis vir Kristie, verduidelik sy, gaan oor vaderskap. Sy meen ook sy het dit tydens ’n anderste tyd in haar lewe geskryf.

“Alles wat gebeur het, het op die ou einde die boek verryk. Dit is ’n lekkerlees-roman. Die boek is deur God geïnspireer. Daar is ook altyd ’n bietjie humor in my boeke.”

Vir haar is skryf ’n stokperdjie.

“En dis die heel lekkerste stokperdjie op aarde.”

Marais verduidelik ook dat sy altyd baie opgewonde raak voordat sy ’n boek vrystel.

“Ek hou van die viering wanneer my boeke uitkom. Ek weet mense hou van die soort boeke wat ek skryf en dis vir my baie lekker om ná die tyd saam met mense oor die boek te gesels. Dis ook lekker, want dan het die lesers iets nuuts van my om te lees.”

Soos alle romanskrywers het sy ook so nou en dan ’n hupstootjie nodig sodat sy haar spertyd kan haal.

“So baie dinge het die afgelope jaar gebeur – my man is oorlede, ons huis het in verlede jaar se storms oorstroom; dit was ’n bedrywige tydperk en ek was baie besig met my persoonlike lewe. Maar dit is waar die uitgewers ’n groot rol speel. Hulle sal gewoonlik laat weet hulle wag op my om vir hulle my storie te stuur.”

En natuurlik, wanneer sy klaar geskryf het, is sy baie bly.

“Dan is ek baie bly dat ek nie meer die boek oor en oor hoef te lees nie, want dan is dit na die uitgewers toe.”

Sy laat ook glad nie op haar wag nie, want sy is reeds besig met haar sesde boek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article