Die Breedekloof/Worcester- en Paarl-wynstreke het die beste vertoning as wynstreke gelewer met vyf nasionale trofeë elk by vanjaar se Suid-Afrikaanse Nasionale Jongwynskou.
Die wenners is verlede Vrydagaand by ’n spogdinee deur die SA Nasionale Wynskouvereniging in samewerking met Agri-Expo by die Elsenburg-landboukollege aangekondig.
Die ander wynstreke wat met trofees pronk, is Klein-Karoo (drie), Stellenbosch (twee) en Robertson en Cederberg met een elk.
Die voorsitter van die SA Jongwynskou, Christo Pienaar, het gesê die gehalte van die jongwyne is vanjaar besonder hoog ondanks die vele uitdagings wat wynmakers moes oorkom. Verbruikers kan uitsien na gehaltewyne wat vanjaar gemaak is en geniet kan word wanneer hulle gebotteleer is. “Dit is opmerklik dat die nasionale wenners van oor die land heen se wynproduksiegebiede kom, sowel as van ’n verskeidenheid tipes wynmakerye. Ek wil graag al die kelders gelukwens met hul prestasies en almal vir hul deurlopende ondersteuning bedank.”
Perdeberg Wyne het die Pietman Hugo-trofee gewen vir die wynmakery wat die meeste punte met sy beste vyf wyninskrywings behaal het. Die kelder het nasionale trofeë vir sy Perdeberg Chenin Blanc, Perdeberg Viognier, Perdeberg Natuurlike Soet Witwyn en Perdeberg Malbec gewen.
Altesaam 48 wyne het klaswenner-status behaal en 133 het goue medaljes ontvang.
Die res van die SA kampioene is: sauvignon blanc (Stettyn Wine Cellar); gehoute chardonnay (De Wet Cellar); sémillon (Cederberg Cellars); wit versnitwyn (Badsberg Cellar); edellaatoeswyn (Van Loveren Family Vineyards); shiraz (Stellenbosch Hills); pinotage (Wellington Wines); merlot (Montagu Winery); rooi versnitwyn (Botha Cellar); dessertwyn (Boplaas Estate Hanepoot Jerepigo); muskadel (Aan de Doorns Winery Rooi Muskadel Jerepigo); Kaapse styl (Jakkalsvlei Vineyards).
Die Diemersdal-wynlandgoed buite Durbanville het sy status as een van die land se mees bekroonde wynplase bevestig deur die gesogte Genl. Smuts-trofee vir die algeheel beste jongwyn te wen.
Hierdie ikoniese trofee word toegeken aan die wyn met die hoogste punt by die jaarlikse SA Jongwynskou.
Vanjaar het Diemersdal se cabernet sauvignon-wyn dié eer ontvang uit 1 387 inskrywings van die 2024-oesjaar.
Die Genl. Smuts-trofee is verlede jaar ook aan ’n cabernet sauvignon toegeken. Dit was vanjaar die sewende keer in die bestaan van die kompetisie dat ’n cabernet sauvignon dit losslaan.
’n Spesiale bottelplakker is in 2013 ingestel om op die wenner van die Genl. Smuts-trofee se bottels te pryk en sodoende die algeheel beste jongwyn van die jaar in die mark te vertoon.
Diemersdal se trofee-wenner is gemaak van ’n vyf jaar oue wingerd, met die 2024-oesjaar slegs die tweede van sy wingerdstokke.
Een wynmaker elk van Diemersdal en Perdeberg kan as die wenners van die Genl. Smuts- en Pietman Hugo-trofeë onderskeidelik uitsien na ’n geborgde reis na die buiteland – danksy ’n bestaande vennootskap sedert 2019 tussen die SA Nasionale wynskouvereniging en Porex SA.
Dié wynmakers sal vanjaar die Simei-wynskou in Milaan en wynmakerye in die Bolzano-gebied besoek.





