Die vyf mense wat in Wolseley teregstaan op aanklag van bedrog se saak is tot 8 April uitgestel.

Die drie Wolseley-polisiebeamptes, ’n voormalige polisiebeampte en nog iemand wat nie aan die polisie verbonde is nie, is Vrydag 7 Januarie in hegtenis geneem.

Volgens betroubare inligting het die vyf beskuldigdes in April verlede jaar beslag gelê op dwelms by ’n huis in Wolseley, maar nooit die strafregtelike proses gevolg nie.

In ’n e-pos aan hoër gesag in die polisie, wat in Standard se besit is, word die volgende verduidelik:

“Op 21 April 2021 ontvang die betrokkenes inligting oor dwelms by Masiphelelostraat 37, Wolseley. Die beamptes het toe opgetree en beslag gelê op 200 Mandrax-tablette en 80 gram tik. Hulle het nie die verdagte [in hegtenis geneem] of die dwelms waarop beslag gelê is, in die polisie se 13-stoor [aangeteken] nie. Die voormalige sersant het toe na Ceres gery, waar hy die dwelms aan ’n onbekende persoon verkoop het. Op die volgende dagskof het hy die ander lede by die Wolseley-begraafplaas ontmoet. Hy het toe vir twee ander sersante R2 500 elk en R500 aan ’n konstabel gegee.” het Standard destyds berig (“Beskuldigdes, onder wie drie polisielede, uit op borgtog”, Donderdag 13 Januarie).

Die vyf beskuldigdes het Dinsdag 1 Maart in die Wolseley-landdroshof verskyn en hul saak is na die streekhof verwys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article