Gedurende 2017 het die leraars van die African Methodist Episcopal Kerk besluit om van die pastorale opleiding se uitdagings aan te pak. Daarom het hulle ’n afvaardiging na Payne Teologiese Seminarium (PTS) in Wilberforce, Ohio in Amerika gestuur om samesprekings oor nagraadse AME-kerkopleiding buite die VSA se grense te voer.

Die groep het bestaan uit die voorma­lige biskop van die 15de distrik dr. David R. Daniels Jr. en eerwaardes W. Burger (hoofleraar), Keith Links en Quinton Liebenberg. Die onderhandelings het teweeg gebring dat die M Div- professionele graad in Suid-Afrika aangebied is onder toesig van die PTS.

Ongeveer 17 leraars was deel van die program van wie vyf uit die Worcester- distrik. Hulle was eerwaardes Anthony J. Jacobs, hoofleraar van die Worcester- distrik, Audrey Ngamlana, leraar van Calvary AME, Hexpark, asook hoofleraar, Keith L. Links, leraar van Zion AME kerk, Le Sueurstraat, Chanrau Africa van Avian Park, Quinton Liebenberg van Ebenezer, Ceres, en wyle John I. Phillips.

Onder uitdagende omstandighede het almal die kursus met sukses voltooi en as Worcesteriete het hulle as oorwinnaars uitgetree.

Die deeltydse kursus is in Worcester by die Bethesda AME kerk in Esselen Park aangebied.

Nadat die gradeplegtigheid uitgestel is as gevolg van die pandemie en reisbeperkings het die PTS onder leiding van die president, dr. M.J. Brown, en die dekaan (akademie) dr. B.W. Holley, die gradeplegtigheid spesiaal vir die Afrikastudente gereël vir 4 September by Bethel AME kerk in Hazendal. Die vyf Worcesteriete was deel van 12 studente wat amptelik hul grade ontvang het.

Die studente se navorsing het hoofsaaklik oor sake in Worcester gehandel en hulle wil juis bydraes lewer tot hulle eie dorp. Onder meer het die navorsing onderwerpe gedek soos die rol van die Zion AME kerk; die waterkrisis in die Breedevallei; die Paasfees-basaar; voedingskemas en vroue se rol in leierskap.

Die span is ook gekeur om die D min-graad by dieselfde seminarium te doen. Daar word nou gesoek vir verdere borge om beide die Mdiv- en die Dmin- grade voltyds in Afrika aan te bied deur die PTS.

Onder leiding van die huidige biskop, Silvester Beaman sal daar gepoog word om meer leraars binne en buite die AME kerk professioneel vir die bediening te ontwikkel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article