Barend Wiese, Marius Coetzee, Erath Swanevelder, Tumelo Sootho en Stefan Engelbrecht is almal Boland-atlete en het almal medaljes ontvang in die onlangse Tweekamp- nasionale kampioenskap wat in Bloemfontein plaasgevind het. Foto:


Vyf blinde atlete van Worcester het onlangs aan die Boland-tweekamp- kampioenskap deelgeneem en almal medaljes ontvang.

Een van die atlete, Marius Coetzee (38), is al sedert skooldae ’n kranige atleet.

“Ek het lank nie atletiek gedoen nie, maar wel ander sport soos rolbal. Maar ek het nog altyd van atletiek gehou. Ek het maar eers in November vir die tweekamp begin oefen. Ek het eintlik begin oefen, want dit sou help met my fiksheid vir die rolbal.”

Siggestremde atlete maak gebruik van siende gidse wanneer hulle hardloop.

“Dit is vir my niks nuuts nie. Ek maak al van skooldae af gebruik van ’n gids wanneer ek hardloop. Die ding is, of jy vertrou hulle, of jy doen nie.”

Coetzee is met glukoom gebore en het eers op die ouderdom van 23 sy sig heeltemal verloor.

Barend Wiese (46) sê hy het gevoel asof hy die boerpot gewen het toe hy die tweekamp voltooi het.

“Dit het gevoel asof ek die jackpot gewen het. Ek het in 2018 met die Parkruns begin en gedink dit sou ’n lekker uitdaging wes.

“Dit help ook met my geestesgesondheid wanneer dinge soms rof raak – dit help baie om my brein te kalmeer.

“Dit maak my ook gelukkig om uit te kom en om nuwe mense te ontmoet,” verduidelik Wiese.

André Burger, die sameroeper van Worcester se tweekamp, verduidelik daar was lank nie tweekamp- byeenkomste in Worcester nie.

“Ek het lank probeer om dit hier te kry en in 2022 het ons uiteindelik daarin geslaag. Daar was egter toe min atlete wat daarin belanggestel het en ek het ’n poging aangewend om meer plaaslike atlete te kry. Eers het ons twee blinde atlete gehad en van daar af het dit uitgebrei.”

Die ander drie atlete, Stefan Engelbrecht, Erath Swanevelder en Tumelo Sootho, is net so trots op hulself en die groep oor wat hulle vermag het.

“Ek het besluit om by die tweekamp-span aan te sluit, want ek het gevoel ek wil meer mense ontmoet en meer uitkom. Dit het my goed gedoen.

“Ek het destyds op skool begin hardloop, dus was dit lekker om weer te begin. Ek is trots op myself; ek het my beste gegee,” sê Engelbrecht.

Swanevelder is ’n ou hand wanneer dit by padwedlope kom.

“Ek het jare gelede gereeld padwedlope en marathons gehardloop. Dit was ’n bietjie moeilik om nou weer te begin. Maar ek was nogal verbaas toe ek beter en beter begin raak het namate ek fikser geraak het. Ek het nie gedink ons almal gaan so goed vaar nie. Ek is baie trots op almal.”

Sootho wou aanvanklik nie die tweekamp doen nie.

“Ek hou nie van swem nie, maar ek hou wel van hardloop. En toe het ek maar ingestem om dit te doen. Ek hardloop al van skooltyd af en dis lekker om nou weer nuwe vriende te maak en na ander dorpe te reis.” . Burger nooi ander atlete wat belangstel om lid te wees van die tweekamp-span, en veral enigiemand wat bereid is om as gidse vir die atlete te dien. Hy kan by 083 257 3888 gekontak word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article