“Elke mens produseer gemiddeld sowat 3,5 kg afvalmateriaal per dag,” sê Saliem Haider, direkteur van afvalbestuur by die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.
“Alle afval moet êrens heen gaan.”
Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) en verskeie vennote het die langverwagte amptelike sooispit-plegtigheid van die streeksvullisterrein, wat in Worcester gevestig sal word, gevier.
Die burgemeester van die KWDM, dr. Elna von Schlicht, het gesê dit het baie jare geneem om hierdie projek tot vrug te bring.
“Dit was inderdaad ’n uitdagende reis, gevul met struikelblokke en hindernisse. Tog, deur volharding, toewyding en onwrikbare verbintenis het ons hierdie uitdagings oorkom. Vandag staan ons trots en ek is baie trots op elke amptenaar wat deel van hierdie reis was. Die veerkragtigheid van ons pogings is ’n voorbeeld van wat bestuur en verbintenis tot dienslewering behoort te wees.”
Die moderne vullisterrein sal die Breedevallei, Witzenberg en Langeberg bedien. Die projek, wat sowat R104 miljoen sal kos, is gebou op dieselfde beginsels as die Overberg-streek se terrein by Karwyderskraal, net buite Hermanus, wat as ’n wêreldklas-fasiliteit geprys is.
“Moderne vullisterreine, soos Karwyderskraal en die nuwe een wat vir die Kaapse Wynlande beplan word, is die resultaat van baie jare se navorsing en word deur wetgewing vereis om omgewingsverantwoordelik te wees,” het Haider voorts gesê. Hy het beklemtoon dat vullisterreine die laaste uitweg moet wees en slegs vir gebruik vir die toepaslike soorte afval.
“Afvalverwydering begin by die bron – in elke huishouding, elke onderneming, en elke regeringsliggaam. Slegs afval wat nie hergebruik of herwin kan word nie, moet na die vullisterrein gestuur word,” het Haider bygevoeg.
Die spit van die eerste sooi is ’n gelukkige geleentheid aangesien dit die begin van ’n nuwe tydvak in afvalbestuur in die Kaapse Wynland-distrik beteken.
Die kontrakteur, Burger en Wallace Konstruksie, mik om die eerste vrag teen middel volgende jaar by die terrein af te lewer.
Die KWDM sal later vanjaar ’n bewusmakingsveldtog van stapel stuur om begrip van die rolle en verantwoordelikhede van inwoners, belanghebbendes en vennote in effektiewe afvalbestuur te verbeter.




