’n Vrouepastoor van Worcester is in hegtenis geneem op aanklagte dat sy onder meer kinders bedwelm het, hulle betas het en kaalfoto’s van hulle geneem het.
Volgens ’n persverklaring wat deur die Worcester-polisie uitgereik is, is die pastoor Maandag 11 Julie in hegtenis geneem vir seksuele misdrywe wat al sedert 2016 aan die gang is.
“Tussen 2016 en 2022 het die verdagte die ouers van drie kinders bedrieg om hulle toe te laat om by haar oor te slaap onder die voorwendsel dat sy mates van hulle moet neem vir die maak van swembroeke. Die kinders is toe ontklee, bedwelm, betas en foto’s is geneem,” lui die verklaring.
Tydens die polisie se ondersoek het dit ook aan die lig gekom die einste pastoor en haar man was voorheen vir 15 jaar in die tronk vir seksuele misdrywe.
Volgens betroubare inligting deur Standard verkry, is beide die pastoor en haar man (ook ’n pastoor) in 2000 van verkragting aangekla en tot 18 jaar gevangenisstraf gevonnis. ’n Deel van hul vonnis is by die Brandvlei-gevangenis uitgedien.
Standard verneem albei is op vervroegte parool vrygelaat, waarna hulle op Worcester ’n kerk begin het. Destyds het drie slagoffers hulle van verkragting aangekla.
“Die pastoor se man is nog nie in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek na sy betrokkenheid by hierdie onlangse misdrywe is deurlopend,” sê die polisie.
Die pastoor word aangekla van vyf aanklagte van mensehandel, twee aanklagtes van verkragting en 100 aanklagtes van die besit en vervaardiging van kinderpornografie.
Die pastoor het Woensdag 13 Julie in die hof verskyn en die saak is uitgestel na Dinsdag 19 Julie vir borgtogaansoek.
Haar identiteit kan nie bekend gemaak word alvorens sy nie in die hof gepleit het nie.


