Charlton Scholtz van Montagu Klub probeer wegkom van ’n Swellendam-verdediger in dié twee spanne se laaste Grootuitdaagbeker-krag-meting op die King Edward-sportterrein in Montagu. Montagu het met 41-20 gewen. Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Die Montagu- en die Swellen­dam-rugbyklub het die afgelope Saterdag (14 Septem­ber) hul ligaverpligtinge afgehandel.

Dié twee spanne het mekaar in hul laaste Grootuitdaagbeker­wedstryd op die King Edward-sportterrein in Montagu gepak.

Montagu, wat rustyd 22-15 voor was, het die kragmeting uiteindelik 41-20 gewen.

Die wedstryd was slegs van akademiese belang, want die kwalifiserende klubs vir die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie is reeds vroeër vandeesmaand bepaal.

Abbotsdale, Caledon, Ceres, Darling, Eagles, Robertson Town, Newtons, Safcol (die verdedigende kampioen), Saldanhabaai, Young Spurs, Villagers Worcester en Vredenburg is die spanne wat vanjaar sake om die Sanlam-Boland-klubkampioentitel gaan uitspook.

Benewens die Top-12-kompetisie vir die Grootuitdaagbeker, is daar ook ’n Sanlam-Boland- Super 16-kompetisie vir die Streekuitdaagbeker sowel as ’n Sanlam-Boland- Super 10-kompetisie vir die Gemeenskapskild.

Verder is daar vanjaar ook ’n nuwe toevoeging tot die uitspeeltoernooi, die Sanlam-Boland- Super 8 vir vroue.

Die Top-12-uitspeelwedstryde neem op 12 Oktober ’n aanvang waarna die halfeindstryd en eindstryd op onderskeidelik 16 en 23 November in die Boland-rugbystadion in Wellington gespeel sal word.

Intussen vind die promosiewedstyde vir deelname in aanstaande jaar (2025) se Grootuitdaagbekerliga eerskomende Saterdag (21 September) in die Bolandpark-rugbystadion in Worcester plaas.

Die wenner van Streekuitdaag Overberg 1 speel teen die wenner van Streekuitdaag 2, terwyl die wenner van Streekuitdaag Witzenberg teen die wenner van Streekuitdaag Sentraal te staan kom. Streekuitdaag Breërivier se wenner gaan teen Streekuitdaag Langeberg kragte meet.

Die wenners van die onderskeie wedstryde word gepromoveer na 2025 se Grootuitdaagbekerafdeling, terwyl die verloorders ’n tweede geleentheid op 28 September gebied word.

Die verloorspanne sal dan teen die spanne wat tweede laaste in die onderskeie Grootuitdaagbeker-streke geëindig het, speel.

Die wenners sal tot die Grootuitdaagbekerkompetisie toegelaat word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article