’n Klein groep vroue het voor die hof in Worcester bymekaargekom om die gesin van ’n vyfjarige meisie wat verkrag is, te ondersteun.Foto:

Credit: SYSTEM

RAWSONVILLE – Gemeenskapslede het verlede week voor die hof teen die vrylating van ’n vermeende verkragter betoog.

Die verdagte (40) word daarvan aangekla dat hy Vrydag 6 Oktober ’n 5-jarige meisietjie in Rawsonville verkrag het.

“Hy het glo eers met sy vingers daar gekrap en toe het hy haar verkrag,” het ’n gemeenskapslid aan Standard& Gazette gesê.

’n Groep vroue, wat lid is van die Women on Farms-groep, het verlede Donderdag (12 Oktober) voor die hof in Worcester luidkeels hul opinie oor die situasie gelig.

Een van die lede, wat anoniem wou bly, verduidelik hoekom hulle betoog het:

“Ek het verlede Maandag van die voorval gehoor. Ek’t daai heeldag probeer om die kind se ma op te spoor of iemand wat weet wat gebeur het. Laat Maandagmiddag het ’n vrou wat die meisietjie en haar ma gehelp het, my laat roep en vertel wat gebeur het. Die man was toe nog nie in hegtenis nie.”

Sy het nog vroue bymekaargemaak en hulle is die volgende dag, Dinsdag 10 Oktober, na die Rawsonville-polisiekantoor toe om met die stasiebevelvoerder te praat.

“Ons het met die kolonel gaan praat en gevra hoekom die man nog buite rondloop? Sy het gesê dit word deur die tak vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) in Worcester ondersoek. Sy het met ons saamgestem en die tak gebel om te vra dat die man in hegtenis geneem moet word. Sy het toe self ’n polisievoertuig gestuur en die man is in hegtenis geneem. Ons het gesê as die man nie in hegtenis geneem word nie, gaan die gemeenskap hom seermaak en sy hok aan die brand steek.”

Sy verduidelik ook dat die verdagte en die slagoffer in dieselfde struktuur gewoon het.

“Die dogtertjie se ma en pa het gesukkel, toe help die man hulle. Dis net een vertrek. Hulle het die vertrek met ’n gordyn afgeskort sodat die familie aan een kant kan slaap. Volgens die inligting wat ek gekry het, het die man die kind Donderdag en Vrydag verkrag. Sy het toe later vir haar ma vertel wat gebeur het.”

Die vroue het voor die hof betoog om die meisietjie en haar gesin te ondersteun.

“Ons kan nie toelaat dat dinge so aangaan nie. Mense kan nie aanmekaar kinders en vroue verkrag en dan loop die skuldiges nog buite rond nie.

“Ons is keelvol.

“Ons gaan weer voor die hof betoog. Hy moet nie borgtog kry nie.”

Die verdagte se volgende verskyning sal in die Rawsonville-hof wees. Hy bly in aanhouding.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article