Kort nadat ’n vrou vir dronkenskap in die Rawsonville-polisieselle toegesluit is, het sy onverklaarbaar ernstige brandwonde opgedoen.
Monica Golla (48) is op die aand van 22 Maart deur die polisie opgelaai in die vermoede dat sy dronk op straat was.
Haar suster Mercia Golla het aan Standard & Breederivier Gazette gesê dat sy op pad was om by ’n vriendin van haar te gaan kuier.
“Ons het nie eers geweet sy was toegesluit nie. En sy is ook nie die tipe om sommer uit te slaap nie. Ons het gedink sy is huis toe,” verduidelik Mercia.
Eers na Monica gebrand het, het die polisie haar familie in kennis gestel.
“Die polisie het die volgende oggend my ma gebel om te sê sy het gebrand, maar dat dit nie ernstig is nie. Hulle het gesê dis net haar hande wat gebrand het. Intussen het iemand anders my in kennis gestel dat my suster in die waakeenheid by die Eben Donges-hospitaal is.”
Na sy hierdie nuus ontvang het, is Mercia na die polisiekantoor toe om meer inligting te gaan kry.
“Ek wou gaan uitvind wat aangaan. ’n Speurder het ek en my ma toe na die hospitaal geneem. Toe ons daar aankom is ons na die waakeenheid geneem. Ons was geensins daarvan bewus dat Monica so erg gebrand het nie.”
Volgens Mercia het haar suster erge brandwonde oor meeste van haar liggaam opgedoen.
“Haar hele liggaam is deurtrek met brandwonde. Daar is selfs brandwonde binne haar keel.
“Die polisie wil voorgee dat my suster haarself aan die brand gesteek het. Maar hoekom sou sy dit nou doen? Sy het nie probleme nie, haar finansies is in orde, sy het haar eie huis en sy werk. As sy selfdood wou pleeg, kon sy dit lankal gedoen het want sy drink in elk geval klaar elke dag baie pille.
“Hulle het vir my foto’s gewys van hoe dit binne die aanhoudingsel gelyk het, maar die lighter wat in die sel gelê was nog heel. Sou dit dan nie ook gesmelt het of ontplof het nie?”
En Woensdagaand is die familie deur dokters by die hospitaal gemaan om hul finale totsiens te gaan sê want hulle het gedink dat Monica nie die aand sal oorleef nie.
“Die dokters het vir ons gesê sy is nou op ’n punt waar hulle niks meer vir haar kan doen nie. Hulle het die masjiene ontkoppel en die pyp uit haar keel gehaal. Na die pyp uit was, het sy met ons probeer praat maar ons kon nie uitmaak wat sy wou sê nie. Nou wag ons maar om te kyk wat gaan gebeur.”
Mercia beweer ook dat die polisie glo eers lank na die brand begin het op haar suster afgekom het.
“Ander mense in die selle het glo geroep en gekap. Die polisie het eers toe hulle iemand anders in die selle wou gaan sit, die brand gesien. Hulle is ook glo veronderstel om elke halfuur hul rondes by die selle te doen, maar hulle het dit ook nie gedoen nie.”
Sy noem ook dat die polisie gesê het daar was glo nie ’n vroulike beampte om haar te deursoek voor sy in die aanhoudingsel geplaas was nie.
“Maar as daar niemand was om haar te deursoek nie, hoe verduidelik hulle die feit dat my suster se besittings voor by hulle in ’n sak was?”
Mercia vertel haar ma, asook haar suster se kinders, is almal verpletter.
“My ma huil heel dag. Monica is die oudste en hulle twee het ’n baie hegte band. Monica se seuns is netso emosioneel.”
Rawsonville-polisie ondersoek die voorval, en ter selfde tyd word ’n interne ondersoek na die brand ook van stapel gestuur.
Provinsiale polisiewoordvoerder, lt. kol. Malcolm Pojie het gesê die Rawsonville-polisie het ’n ondersoekdossier oor die omstandighede geopen na ’n voorval wat op 22 Maart omstreeks 21:30 in die aanhoudingselle plaasgevind het.
“Lede aan diens het gereageer op ’n brand in die selle waar ’n 48-jarige vrou aangehou is vir dronkenskap en wanordelike gedrag. Die lede het ontdek dat die vrou haarself aan die brand gesteek het waartydens sy brandwonde opgedoen het en na ’n plaaslike hospitaal geneem is vir mediese behandeling. Beddegoed in die sel is ook tydens die brand beskadig. ’n Interne ondersoek word gedoen, parallel met die ondersoek,” het Pojie gesê.





