Codene Arendse, een van die enigste vroue-motorwerktuigkundiges in die Boland-streek besig met ’n voertuig by Baxter Auto Services.

Dominique Jeftha Credit: SYSTEM

Die toekoms lyk belowend vir ’n jong vroue-motorwerktuigkundige van Rawsonville wat onlangs haar ambagstoets geslaag het.

Die 25-jarige Codene Arendse is een van die enigste vroulike motorwerktuigkundiges in die Boland.

Arendse werk by Baxter Auto Services in Worcester en sê sy wil nie regtig ’n groot bohaai oor haar prestasie maak nie omdat sy nie baie van die aandag hou nie.

Sy beskryf haarself as ’n persoon wat nog altyd nuuskierig was wanneer dit by motors kom en noem dat haar pa ’n groot rol in haar loopbaankeuse gespeel het.

“Ek het altyd ná skool my pa gehelp as hy aan voertuie gewerk het en dit is waar my liefde vir motors begin het,” sê sy.

Arendse sê na matriek het sy vir ’n jaar by Westlake-kollege gaan swot, waar sy ’n beurs ontvang het om haar praktiese opleiding te voltooi.

“Die kollege het egter nie die praktiese gedeelte daar aangebied nie en ek moes ’n keuse maak tussen nuwe vakke kies of om alles te los. My ma het toe vir oom Charles gevra of hy nie vakleerlinge inneem nie. Hy het ingestem en ek het gebruik gemaak van die geleentheid,” sê Arendse.

Charles Baxter, eienaar van Baxter Auto Services, sê hulle het vir Arendse intensiewe praktiese opleiding gegee en is trots op haar prestasie. Hy sê hy het plek vir haar gemaak sodat sy haar praktiese opleiding kon voltooi.

Arendse sê sy het al haar praktiese opleidingsvlakke by Baxter voltooi asook vanjaar gekwalifiseer as ’n werktuigkundige. Sy sê die werk is opwindend en dít wat sy vermag het, voel steeds onwerklik.

“Sy het vir ’n week Kaap toe gegaan om haar op te skerp vir haar vaardigheidstoets en toe sy haar vaardigheidstoets doen, het sy alles geslaag,” sê Baxter. Volgens hom gebeur dit nie sommer dat iemand die eerste keer alles slaag nie.

“Ek is dankbaar vir die geleentheid om my opleiding hier voort te sit,” sê Arendse.

Haar raad aan ander vroue is daar is niks wat ’n man kan doen wat ’n vrou nie ook kan doen nie. Jong vroue moet hulle drome volg en nooit opgee nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article