Dit is onduidelik of die lyk van ’n vrou wat Vrydag in ’n vlak graf langs die Breërivier gevind is, dié van die vermiste Magrieta “Niesie” Jacobs is.
Jacobs (25), oorspronklik van Worcester, het 27 Aprilspoorloos verdwyn.
“Ek en sy het daai Saterdagmiddag by mense op ’n ander plaas gaan kuier. Later die aand het Niesie en ’n ander man saam met my huis toe gestap, maar sy is weer saam met die man,” vertel Jacobs se vriendin, Moseline Kiewiets, wat op Facebook om hulp gevra het om haar vriendin te help soek.
Volgens Kiewiets het Jacobs egter nie verder gaan kuier met die man wat saam met hulle gestap het nie.
“Hy het gesê hy het haar nie weer gesien toe hulle weer by die plaas aankom nie. Sy het glo na ’n ander vriendin toe gegaan waar sy ’n ander man ontmoet het. Sy het teen daai tyd ’n paar drankies ingehad. Die man wat sy daar ontmoet het, het glo vir haar slaapplek vir die aand aangebied. Maar ek kan nie sê of sy wel daar gaan slaap het nie. Volgens daai man het sy nie en hy weet glo nie waarnatoe sy toe is nie. Die meerderheid mense wat hulle daai aand saam gesien het, sê wel dat die twee saam weg is van die kuierplek af. Daar is so baie stories wat die ronde doen en ek weet nie wat die waarheid is nie.”
Kieweits vertel ook dat Jacobs om en by drie jaar gelede na die plaas in die La Chasseur-distrik naby Robertson getrek het.
“Sy is van Worcester, maar het plaas toe getrek – na haar outjie toe. Maar ná ’n ruk het hulle opgebreek en sy het toe by my bure ingetrek, wat familie van haar is. Dit is hoe die twee van ons bevriend geraak het.”
Sy is gebroke oor haar vriendin se sterfte.
“Dis baie seer. Ek kan nie glo dat dit met haar gebeur het nie, en die feit dat dit gebeur het nadat ek en sy die dag saam deurgebring het. Ek gaan haar geselskap baie mis. Sy was ’n lieflike mens.”
Die politieke party Langeberg Independent Party het Vrydag op sy Facebook aangekondig dat Jacobs se lyk gevind is.
“Die gebeurtenis het die gemeenskap van Le Chasseur geskok en in rou gedompel.
“Die vermoede bestaan dat Magrieta vermoor is, wat nog meer intensiteit aan die reeds tragiese gebeurtenis toevoeg.
“Die polisie doen tans ’n deeglike ondersoek na die saak en vra die gemeenskap om waaksaam te bly en enige verdagte aktiwiteite by hulle aan te meld. Die identifisering van die moordenaar is van die uiterste belang om geregtigheid vir die familie en die gemeenskap te verseker,” lui ’n gedeelte van die inskrywing.
Die polisie het bevestig dat die lyk van ’n vrou Vrydag gevind is.
“Ons kan bevestig dat die lyk van ’n onbekende vrou gevind is. ’n Geregtelike doodsondersoek is van stapel gestuur. Ons wag nog vir die uitslae van die lykskouing,” het ’n woordvoerder van die Robertson-polisie by navraag gesê.



