Brandvlei-hengelklub se tweede kompetisie is Saterdag by die Daytona-dam buite Ceres gehou.
Hengelaars moes bontstaan om in die baie warm weer ’n vissie aan te keer en relatief min (92) vis is geland. Boonop was die vis baie klein, maar aan die ander kant is dit ’n teken daar is goeie aanteel en die getalle en grootte sal binnekort toeneem.
Die dag het aan Lourista de Jongh behoort. Nie net is sy as sonewenner, vroue-wenner sowel as meesterskampioen gekroon nie, maar sy was ook die dag se algehele wenner. De Jongh het net verlede week teruggekeer van die SA vrouekampioenskap waar sy as lid van die Eden-span deelgeneem het en hulle as wenners gekroon is. Sy is ook as die laaste dag se algehele wenner gekroon en het die derde swaarste sakvis (89 kg) van die toernooi ingeweeg.
Saterdag het Kobus Kriel sy sone gewen, hy het algeheel tweede geëindig en het die swaarste karp van die dag geland.
Jaco Bothma is as wenner van die veterane-afdeling aangewys. Eduaan van Molendorff en Dwain Campbell was tweede in hul onderskeie sones. Megan van Graan was tweede en Nicki Vice derde in die vroue-afdeling.





