’n Werknemer van Spur by die Shell Ultra City buite Worcester het Saterdag ’n jong, swanger vrou, wat per bus na haar ma se begrafnis op pad was, gehelp om haar baba in die wêreld te bring.
Die jong vrou, wie se naam nie bekend is nie, was Saterdagaand omstreeks halfnege op pad van Kaapstad na die Oos-Kaap toe sy by werkers by die Spar oor krampe gekla het.
Christel Booysen, wat by die Spur werk, was aanvanklik bang en huiwerig, maar het haar te hulp gesnel.
“Die bus het soos gewoonlik daar kom stop en die vrou het badkamer toe gegaan. Nie lank daarna nie het sy vir iemand gesê sy is swanger en ervaar kraampyne. Sy is toe aangeraai om in die babakamer te gaan lê,” vertel Booysen.
Sy sê die swanger vrou was op pad na haar ma se begrafnis en het gesê haar baba is veronderstel om eers op 20 Maart gebore te word.
“Die vrou het toe in die babakamer gaan wag. Later het iemand gesê ek moet die baba gaan vang, maar ek was doodbang om so iets te doen. Maar toe hoor ek die vrou skreeu van die pyn en ek het gaan kyk. Ek het haar sak agter haar rug gesit sodat sy gemaklik kon wees en gesê sy moet net rustig wees en vir die ambulans wag.”
Die kleine baba het ander planne gehad. Booysen wou nog gaan hulp soek, maar het omgedraai om die vrou te help.
“Sy’t gesê sy kan nie meer rustig wees nie. Ek was doodbang. Ek het haar toegegooi en toe gooi sy haar weer oop. Dis toe ek sien sy het haar broekie nog aan. Ek wou dit uitrek, want ek wou nie hê die baba moet seerkry net ingeval hy uitkom nie. Die oomblik toe ek haar broekie uitgetrek het, het die babaseuntjie in my hande geval.
“Ek was so geskok en die ene adrenalien!”
Die babatjie het net ’n bietjie gehuil en vinnig kalmeer terwyl sy en haar kollegas sy ma ook help kalmeer het.
“Die mamma was kalm en wou net die versekering hê dat haar seuntjie oukei is. Een van haar arms is geamputeer en ek sidder om te dink wat sou gebeur het as sy nie daar afgeklim het nie; hoe sy op die bus sou gesukkel het.”
Verder verduidelik sy die paramedici het net na 21:00 opgedaag.
“Hulle het my bedank omdat ek die vrou gehelp het, en toe die naelstring geknip, want ek was te pieperig om dit ook te doen. Dit was regtig ’n skrikwekkende oomblik vir my, maar tog ook ’n oomblik van genade.”
Volgens die paramedici wat op die noodkreet reageer het, het hulle nie geweet na watter een van die twee vulstasies om te gaan nie.
“Ons was eers by die een wat in die rigting Kaap se kant toe is. Ons het toe met ons beheerkamer kontak gemaak en is in kennis gestel dat die baba reeds gebore is en dus het ons reeds geweet wat om te doen wanneer ons daar kom,” het die paramedikus gesê.
Hulle het die naelstring geknip, die baba in ’n kombers toegedraai en die ma gekalmeer en gerusgestel.
Die ma en haar seuntjie is in die ambulans gelaai.
“Die plasenta het ook in die ambulans uitgekom. Beide die mamma en haar baba was piekfyn en is later in ’n gesonde en stabiele toestand aan die hospitaal oorhandig.”





