Een van die twee vroue wat in 2022 amper R1, 4 miljoen van Huis Andries Hamman verduister het, is gevonnis.
Die twee vroue, Liezl du Toit en Christa Human, het op 162 aanklagte van bedrog tereggestaan. Die twee is in 2022 vasgetrek, maar die bedrog het al in 2018 begin. Hulle het onderskeidelik as die bestuurder en ontvangsdame by die tehuis gewerk.
Du Toit en Human het glo voorgegee dat die bedrieglike transaksies vir uitgawes in die belang van die tehuis was. Die saak is verlede week in die hof afgehandel, en volgens die klagstaat het die staat aanklagte teen Human op 7 Maart teruggetrek en Du Toit is drie jaar tronkstraf opgelê, wat vir vyf jaar opgeskort is.
Du Toit het skuld beken en berou getoon, volgens die hofdokumente.
“Die beskuldigde berou haar optrede, wat groot stres vir haarself en haar familie veroorsaak het, veral vir haar kinders, want hulle is bang dat hul ma van hulle af weggeneem kan word. Die beskuldigde het skuld beken en voer aan dit wys dat sy berou het oor haar optrede en sy is bereid om verantwoordelikheid vir hierdie optrede te aanvaar,” lui die dokument.
Sy het ook ingestem dat haar pensioengeld wat in die tehuis se pensioenskema is, na die tehuis moet gaan.
“Die bedrag van R458 374,46 wat deur die klaer in die beskuldigde se pensioenfonds gehou word, word aan die ouetehuis verbeur as gedeeltelike vergoeding vir die finansiële verlies wat gely is,” word in die hofdokumente gesê.
Die beskuldigde sal vir die duur van haar straf in huisarres wees.
“Verder word die beskuldigde drie jaar korrektiewe toesig opgelê. Die korrektiewe toesig sal uit die volgende maatreëls bestaan: Huisarres by haar huis vir die volle duur van die korrektiewe toesig, met die wete dat die kommissaris die huisarres gedeeltelik kan opskort met die voltooiing van ’n gedeelte van die vonnis. Die beskuldigde moet deelneem aan maatskaplike programme soos deur die kommissaris bepaal.”
Ander voorwaardes sluit in: . Die beskuldigde moet haar daarvan weerhou om alkohol of dwelms te gebruik of te misbruik en haarself nie aan ’n strafregtelike oortreding of ander wangedrag skuldig maak nie. . Die beskuldigde mag nie haar woning, werk of landdrosdistrik verlaat nie, tensy dit vooraf deur die kommissaris goedgekeur is.
Standard & Gazette het uitgereik na Bobby Stemmet, Huis Andries Hamman se huidige bestuurder. Volgens hom is Du Toit se vonnis en pleitooreenkoms behoorlik deur Badisa en die tehuis se beheerraad bespreek.
“Daar was gemengde gevoelens oor wat die mees gepaste vonnis sou gewees het, naamlik direkte gevangenisstraf of die voorgestelde pleitooreenkoms. Die feit dat sy op alle aanklagte skuld sou beken en ons tehuis kon baat uit die slagoffervergoeding-gedeelte van die ooreenkoms, naamlik haar pensioenbelang wat terugbetaal moet word, kon ons darem ’n gedeelte van die geld terugkry.”
Hy maak ook melding van die straf wat Du Toit opgelê is.
“Die vonnis van korrektiewe toesig is egter nie ’n maklike straf soos wat baie mense dink nie. Haar lewe sal in die volgende drie jaar onherroeplik verander. Die veroordeelde se lewe word daagliks deur Korrektiewe Dienste gereguleer deur middel van monitering, kantoor- sowel as tuis- en werkbesoeke. Jou familie word ook negatief beïnvloed. Die feit dat sy ’n misdaadrekord het, is ook ’n faktor waarmee sy vir die res van haar lewe sal moet saamleef.”




