’n Vrou van Robertson het haar tot Facebook gewend en verduidelik hoe ongelukkig sy is nadat sy haar verkragting by die polisie wou aanmeld.
“Ek is regtig teleurgesteld in ons regstelsel. Ek is Sondagnag verkrag deur iemand wat saam met my in die huis gebly het. Ek moes lang ure by die hospitaal en polisiekantoor deurbring om seker te maak hy word aangehou voordat ek kon terugkeer huis toe, net om gisteraand te hoor hy is vrygelaat en dat hy voor die hek staan waar ek nou bly. Ek voel regtig verneder en teleurgesteld, want volgens sy ma sal haar tikkopseun dit nie doen nie, en dit nadat dit nie sy eerste poging was nie. Hy het sy skoonsuster ook probeer verkrag. Ek is regtig teleurgesteld op so ’n manier dat ek voel net selfdood sal die uitweg wees. Ek hoop nie so iets gebeur met iemand anders nie, want hulle gaan ook gefail raak,” lui die inskrywing.
Standard & Breederivier Gazette het na die vrou uitgereik. Die voorval het volgens haar Sondag tussen 04:00 en 04:30 gebeur.
Sy is toe polisiekantoor toe en is daarna by die hospitaal afgelaai vir toetse.
“By die hospitaal het ek vir ’n ruk aan die slaap geraak, want die dokter was besig. Ná ’n ruk het sy na my toe gekom en die toetse gedoen,” verduidelik sy.
Sy is deur ’n vrywilliger van die slagofferondersteuningsgroep by die polisiekantoor vergesel, maar is nie enige berading aangebied nie.
“Ek het toe self vir die dokter gevra om ’n berader te spreek. Sy het gesê ek moet die Maandag teruggaan vir ’n opvolgbesoek en dan sal berading bespreek word.”
Volgens inligting bekom van iemand met kennis van die saak, is die verdagte Maandagoggend in hegtenis geneem.
Hy het Woensdag op aanklag van verkragting in die hof verskyn.
Die slagoffer ken die verdagte al haar hele lewe lank en wil hê hy moet swaar boet vir wat hy aan haar gedoen het.
“Dis die tweede keer dat ek by hulle gebly het. Ek sal verkies dat iets ernstigs met hom gebeur, want die feit dat ek hom elke dag gaan sien, maak my naar.”
Toe sy weer gevra is of sy steeds kwade gevoelens teenoor die regstelsel het, het sy nee gesê.
“Nee, ek was net baie bekommerd, want hulle het niks laat weet nie ek het steeds niks gehoor nie. Ander mense het namens my navrae gedoen en my laat weet van hom wat voorkom.
“Ek wil ook asseblief vir die polisie om verskoning vra vir die vals inligting wat ek ontvang het. Dis sy (die verdagte se) ma wat gesê het dat dit hy is wat by die hek staan.”
Standard & Breederivier Gazette het ’n navraag na die Robertson-polisie gestuur, maar het teen druktyd geen terugvoering ontvang nie.

