’n Vrou se lyk is Maandagoggend op die hoek van Sutherland- en Hoogstraat deur ’n verbyganger gevind.
“Die polisie het om 08:10 inligting ontvang van ’n lyk wat in die pad lê.
“Toe hulle op die toneel kom, het hulle ’n vrou in die leiwatersloot ontdek. Haar linkerwang was opgeswel en daar was droë bloed om haar mond. Dit het nie gelyk of enige misdaad gepleeg is nie, maar dit sou eers ná die lykskouing bevestig kon word,” het Jacobs verduidelik.
’n Familielid het Dinsdag bevestig die oorledene, Albah Cochrane (43), is aan natuurlike oorsake dood.
“Sy was siek; sy het asma en TB gehad, en haar niere was besig om in te gee.”
Haar familie onthou haar met liefde.
“Albah was ’n mense-mens; almal het haar geken. Sy kon enige tyd, dag of nag, in Worcester se strate rondbeweeg en niemand sou of het haar ooit iets aangedoen nie. Sy het altyd ’n sin vir humor gehad en jy moes lag wanneer sy in die omtrek was. Sy was vol grappe.
“Jy kon haar enige guns vra – sy het nooit gehuiwer nie.”
Cochrane is die dogter van die bekende verkeersbeampte Brian Cochrane.
“Albah, vir my, was soos haar oorlede pa. Baie nederig, mense-mens, vol terggees en lief om te leef. Sy het geleef tydens storms en reënboë. Ons as familie sal haar onthou vir hoe sy kon lag en glimlag deur haar storms. Ons gun haar die rus en ewige vrede.”
Die familie onthou ook haar liefde vir skoonmaak en die buitelewe.
“Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Jy kon sien aan ’n vertrek dat dit Albah was wat daar skoongemaak het.
“Sy het ook baie van die natuur en buitelewe gehou. Sy het niks daarvan gehou om heeldag binne te wees nie.”
Haar ma bedank ook graag die gemeenskap vir hul vriendelikheid.
“Dankie aan die gemeenskap vir al die bydraes wat julle aan haar kon gee. Die gemeenskap het haar aanvaar met haar swakhede en foute. Baie dankie daarvoor.” . ’n Begrafnisdiens word op 6 April gehou.
Besigtiging begin om 09:30 en die diens om 10:00 by die Last Days Family Church.





