Alida Esel (links) troos haar ma, Regina.


Die jong lewe van ’n geestelik versteurde vrou van Rawsonville is die afgelope Saterdag wreed kortgeknip toe sy kort ná ’n rugbywedstryd in ’n tref-en-trap-ongeluk gesterf het.

Die oorledene is die 24-jarige Leana Yolandie Esel van die plaas Boland Mushrooms Wysersdrift-boerdery in die Rawsonville-distrik.

Esel se hartseer suster, Alida Esel (36), het dié week aan Standard gesê haar suster het Saterdagmiddag saam met spelers en ondersteuners van die Goudini United-rugbyklub per bus na ’n rugbywedstryd op die plaas Lemoenpoort gereis.

Volgens Alida het die bus Leana omstreeks twaalfuur in Goudiniweg – ’n hanetree van haar ouerhuis – opgelaai.

Alida sê later dié aand, omstreeks sewe-uur en na afloop van die wedstryd, het die bus Leana en die ander ondersteuners langs Goudiniweg afgelaai. Volgens Alida het Leana ver agter die groep, wat saam met haar uit die bus geklim het, gestap.

Alida sê toe diegene wat saam met Leana op die bus was, sonder haar by die plaas aankom, het hul pa se neef, Piet Vermeulen, wat op dieselfde plaas woon, bekommerd geraak.

Volgens Alida het Vermeulen sy skoonsuster se seun, Leandré Vermeulen, gevra om saam met hom te gaan kyk waar Leana wegbly.

Alida sê toe Piet en Leandré by die pad aankom, het hulle Leana in die pad sien lê.

Volgens Alida is haar suster omgery.

Volgens Alida het Piet toe vir Leandré gestuur om sy (Leandré se) ma, Charmaine, asook hul ander suster, Johanna Esel, alombekend as Elbie, te gaan roep. Alida sê Charmaine was ook vroeër die dag by dieselfde rugbywedstryd.

Volgens Alida het Johanna probeer om Leana wakker te maak. Sy sê toe Johanna Leana se kop oplig en bloed sien, het sy haar (Alida) onmiddellik kom roep.

Alida vertel verder sy was by haar niggie se huis toe ’n histeriese Johanna met die tragiese nuus daar aangehardloop kom.

Hulle het hulle toe onmiddellik na die ongeluks­toneel gehaas, maar Leana was reeds dood. Die polisie is dadelik ontbied.

Alida sê hartseer dat Leana “ ’n goeie kind” was wat altyd geluister het wanneer met haar gepraat word, omdat sy geestelik gestrem was.

Volgens Alida is hul jongste suster, Zelda, agt jaar gelede ook in Goudiniweg doodgery – ’n paar meter van waar Leana doodgery is.

Leana word Sondag ter ruste gelê.

Sers. Vivienne Hurling, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dit was ’n tref-en-trap-ongeluk en die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Hurling sê in dié stadium kon die polisie nog geen getuies opspoor nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.. Enigeen met inligting kan kapt. M. Carstens of AO B.C. Prins by die bystandnommers 082 469 5630, 079 894 1718 of 079 497 4992 bel. Alternatiewelik kan die Rawsonville-polisie by 023 349 8300 geskakel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article