Van 1 April val sentrums vir vroeëkinderontwikkeling (VKO) onder die departement van basiese onderwys en nie meer onder die departement van maatskaplike ontwikkeling nie.
Dié landwye migrasie volg op maande lange konsultasie tussen belanghebbendes nadat pres. Cyril Ramaphosa die aankondiging in sy staatsrede in 2019 gemaak het. Hy het toe die proklamasie van die oordrag van administrasie en funksies van die VKO-sektor onderteken.
Hierdie stap maak voorsiening daarvoor dat VKO-funksies gestandaardiseer word, en hierdeur gestruktureerde leer in die sektor te verseker, onder meer ’n kurrikulum wat deur die onderwysdepartement bestuur word.
Dit behels ook dat die VKO-sektor se kurrikulum in ooreenstemming gebring word met Caps, die kurrikulum wat tans in staatskole toegepas word.
Die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling (DMO) sê hy is gereed vir ’n gladde oorgang van VKO-sentrums na die Wes-Kaapse departement van basiese onderwys (WKOD) op 1 April.
Die DMO sê hy het die toepaslike prosedures geïmplementeer om te verseker dat die verskuiwing so glad moontlik plaasvind. Hy het tot dusver die oordrag van kontrakte, ooreenkomste, werksprosedures, databanke en vereiste dokumentasie aan die WKOD oorhandig.
Joshua Chigome, woordvoerder van die DMO, sê vroeëkinderontwikkeling is van kritieke belang aangesien dit ’n geleentheid bied vir vroeë intervensie en kinderbeskerming. Dit verskaf die struktuur wat nodig is vir ’n baba en kind om hul potensiaal tot die maksimum te ontwikkel.
Hoewel alle VKO-dienste na die WKOD sal oorskuif, sal gedeeltelike sorgdienste by die provinsiale DMO bly.
Die DMO sal ook voortgaan om kindersorgbeskerming en -ondersteuning aan gesinne binne hul spesifieke terrein te bied.
“Geen noemenswaardig groot veranderings sal in die eerste twee jaar aan die operasionele aspekte en diensleweringsmodel vir VKO gemaak word nie om ’n gladde oorgang te verseker,” het Chigome gesê.


