Dit is ’n winderige Sondagaand, sterk skemer en baie koud.
Ek sou eerder in my bed wou wees met my warm kombers en die gelag en geskerts van my kinders in my ore. In plaas daarvan is dit die gesels van vreemde mense en die geluid van baie motors hier by die N1 Engen Wynland.
Met laaste stywe drukkies aan albei my kinders klim ek in die bussie, skuif my gemaklik en maak reg vir die pad Worcester toe.
Wanneer ons wegtrek, sluit ek my oë. Die gedreun van die enjin wil die selfbejammering in my loswoel, maar ek hou my pure hond en skud dit af.
“Ha nee a, fokus, Rochelle!”
“Onthou die wet van die oerwoud!”
“Net die sterkstes oorleef!”
“Fisiek, verstandelik of emosioneel?”
Die sterkste van die drie is verstandelik. Aldus die geleerdes.
’n Verandering in gedagtes veroorsaak immers ’n verandering van omstandighede.
Of dit regtig so eenvoudig is, is debatteerbaar, maar vir die doel van my innerlike kommunikasie is dit nodig dat ek daaraan vasklou.
Ek fokus op die week wat voorlê.
Vergaderings, take, besluite en sommer ’n hele klomp lekker uitdagings. Met die klem op “lekker”, want ek maak my werk vir myself lekker. Ek het immers die voorreg van werk.
Ons land het van die beste arbeidswetgewing ter wêreld.
Soveel van kleur, soveel mans, soveel vroue, soveel gestremdes, soveel strooi – want dit werk nie so in die praktyk nie, op papier miskien.
Min gestremde mense het werk.
Nog minder DoofBlindes het ’n werk.
Ek besef daar is verskeie redes hiervoor. Dis beslis nie one fits all nie, maar ek vermoed vrees is beslis een van die sondebokke.
Vrees aan albei kante.
Die werkgewer aan die een kant, miskien as gevolg van onsekerheid of onkunde oor doofblindes?
En die DoofBlinde self aan die ander kant. Hoe gaan ek by die werk kom? Sal ek die werk kan doen?
Almal van ons word in ’n mindere of meerdere mate in ons denke en doen beïnvloed deur hierdie onsigbare mag van vrees.
Dus is ek deeglik daarvan bewus wanneer ek ’n foonoproep beantwoord, e-pos stuur of persoonlik met mense skakel. My optrede en gesindheid, my hele menswees kan in hierdie oomblik die deur vir ander DoofBlindes toe of wawyd oopmaak!
“Jack Pauw next stop!” sê die bussie se bestuurder.
Ek laat my wenkbroue die lug in skiet, omdat ek nie seker is of ek reg gehoor het nie.
Blondie lees die gebaar korrek en sê weer,
“Rochelle, ons gaan jou nou aflaai!”
“Dankie, Blondie,” sê ek, kry my goed bymekaar en wag dat iemand my help om veilig by die terrein van die tehuis in te kom.
Dankbaar.




