Een baan is tans in die Hexrivierpas op die N1 gesluit weens ’n vragmotor wat op die N1 omgeslaan het.
Volgens ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie het die bestuurder van die vragmotor vanoggend (Donderdag 20 Julie) net na 08:00 beheer oor sy voertuig verloor terwyl hy in die rigting van De Doorns gery het.
“Die bestuurder was alleen in die vragmotor. Hy sit tans nog vas binne die kajuit. Toe hy beheer oor sy voertuig verloor het, het dit teen die berghelling langs die pas gebots,” verduidelik die woordvoerder.
Daar is tans ’n stop-ry proses in plek gestel vir verkeer. Dit is tans nog onduidelik hoe lank dit gaan neem om die bestuurder uit die trok te sny.
Volgens ’n bron met kennis van die toneel, is reddingswerkers vanaf Kaapstad op pad na die toneel om die bestuurder uit die wrak te kry. Geen ander voertuie was by die ongeluk betrokke nie.





