Reddingswerkers probeer die bestuurder van die bakkie bevry. Foto: One-Way Towing


Michellspas in Ceres was Maandag vir omtrent ses uur gesluit weens ’n ongeluk tussen drie voertuie.

Volgens die Ceres-polisie het die ongeluk omstreeks 15:40 plaasgevind.

“Daar was een vragmotor en twee bakkies betrokke by die ongeluk. Dit is egter nog onduidelik hoe presies die ongeluk gebeur het,” verduidelik ’n woordvoerder van die Ceres-polisie.

Die trok het ’n vrag van 850 skape vervoer maar dis onduidelik hoeveel van die skape in die ongeluk gevrek het.

Albei bakkies betrokke by die ongeluk was onder die vragmotor vasgepen. Een van die bestuurders moes egter uit sy voertuig gesny word.

“Nooddienswerkers het die bestuurder om 18:40 uiteindelik uit sy voertuig losgekry.”

Volgens iemand wat op die toneel was is die bestuurder, wat glo van Worcester af is, erg beseer. Die pad was teen 22:48 steeds vir verkeer gesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article