Daar is nie ooreenstemming tussen wetenskaplikes oor of die sogenaamde nuwe Deltacron-variant van die koronavirus werklik is, en of dit bloot laboratoriumkontaminasie is nie.

Credit: SYSTEM

Terwyl Covid-beperkings in die land verslap word, is daar kommer oor ’n nuwe variant met die naam Deltacron, wat kenmerke van die Omicron- en Delta-variant van die koronavirus toon.

Maar is dit ooit werklik ’n variant, of is dit bloot ’n geval van laboratoriumbesmetting, soos sommige wetenskaplikes beweer?

Volgens ’n berig deur NPR lyk dit of die virus in sommige gevalle die kombinasie van Omicron en Delta optimaliseer deur die beste eienskappe van elkeen te kies vir aansteeklikheid en immuunontduiking.

Maar hoe gevaarlik is dit werklik? En is dit ooit werklik?

Deltacron is die eerste keer in die middel van Februarie geïdentifiseer toe wetenskaplikes by die Pasteur-instituut in Parys ’n genetiese sekwensie van die koronavirus opgelaai het wat anders gelyk het as voriges.

Volgens The Print het die eerste monster wat getoets is van ’n bejaarde man in die noorde van Frankryk gekom en het dit vreemd gelyk. Nog sekwensies is van ’n groep mense van Ciprus gekry.

Die meeste van dié variant se genetiese sekwensie was dieselfde as Delta s’n – wat tot laat verlede jaar wêreldwyd oorheersend was – maar die deel van die sekwensie wat die virus se stekelproteïen kodeer, het van Omicron gekom.

Vroeër hierdie maand het die WGO se dr. Mike Ryan opgemerk dat die moontlikheid van rekombinante (viruskombinasies) nog altyd op die tafel was. “Rekombinasie vind plaas wanneer twee virusse dieselfde persoon of dieselfde dier besmet en dan groot hoeveelhede genetiese inligting uitruil. Jy kry effektief ’n nuwe virus aan die ander kant . . . dit is hoe grieppandemies ontstaan. Ons moet baie versigtig wees en hierdie rekombinante baie, baie noukeurig dophou.”

Jy kry effektief ’n nuwe virus aan die ander kant . . . dit is hoe grieppandemies ontstaan. Ons moet baie versigtig wees en hierdie rekombinante baie, baie noukeurig dophou.

Volgens dié wetenskaplike is Deltacron ’n kombinasie van die Delta-variant wat verwoesting in Indië en ander lande gesaai het tydens die tweede golf, en Omicron wat teen ’n ongekende tempo versprei het.

Volgens ’n artikel in The Conversation deur Luke O’Neill, professor in biochemie aan Trinity-kollege in Dublin, is dit moeilik om te sê op watter maniere Deltacron op die oomblik na sy “ouers” sal lyk.

“Delta en Omicron is heeltemal verskillende virusse. Hulle verskil in hoe hulle selle besmet en hoe hulle immuniteit ontduik. Ons weet steeds nie genoeg van Deltacron om te kan sê hoe anders dit gaan wees nie.”

Aan die ander kant sê dr. Tom Peacock (PhD) van die Barclay-laboratorium van die Imperial-kollege in Londen dat die “sogenaamde Deltacron-variant waarskynlik ’n geval van laboratoriumbesmetting tussen die Delta-variant en die Omicron-variant is”.

Volgens hom is hierdie soort besmetting in laboratoriums nie ongewoon nie. Hy het getwiet dat “baie, baie klein volumes vloeistof” hierdie soort sekwensie-kontaminasie kan veroorsaak, maar “gewoonlik word hierdie redelik duidelik besmette reekse nie deur groot mediahuise gerapporteer nie.”

Met ander woorde, ’n laboratorium wat monsters van die Delta-sekwensie bepaal het en toe begin het om monsters van Omicron se sekwensie te bepaal, kon spore van die ouer genetiese materiaal in hul nuwe ontledings bespeur, wat dan verkeerdelik ’n variant met elemente van albei variante sou wys. In hierdie geval sal genetiese mutasies wat normaalweg in Delta voorkom op ’n Omicron-“ruggraat” verskyn.

Soumya Swaminathan, die hoofwetenskaplike by die WGO, het getwiet dat ons moet wag vir navorsing om die eienskappe van hierdie virus te bepaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article