’n Facebook-verbruiker het onlangs sy misnoeë oor die diens wat hy by die Breederivier-verkeersafdeling ontvang het, in ’n inskrywing gedeel.
Hy het die volgende geskryf: “Ek het vandag die mees onprofessionele diens nog by die Breërivier- munisipale verkeersafdeling ondervind.”
Hy skryf verder iemand het ’n motor geleen om te gaan uitpasseer by die verkeersdepartement.
“Drie minute na hy begin het, word hy gedop omdat die motor volgens die beampte onpadwaardig is, want die motor het net een trulig. Daar word ook vir hom gesê hy mag nie met ’n voertuig uitpasseer wat reverse sensors in het, want dis onregverdig teenoor ander mense wat uitpasseer wat nie tru-sensors in het nie.”
Standard & Gazette het navraag by die munisipaliteit gedoen oor wat die reëls is oor motors wat gebruik word om uit te passeer.
“Die vereistes met betrekking tot die tipe voertuig word voorgeskryf in die Nasionale Padverkeerswet (Wet no. 93 van 1996), gelees met die K53- Praktiese Bestuurstoets vir Motorvoertuigbestuurders, ‘Deel 1 – Ligte Motorvoertuie’, wat die eksaminator se voor-inspeksieproses inlig om die voertuig te assesseer,” het Chad Malgas, ’n woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit, gesê.
Hy sê voorts die reëls oor watter soort voertuie tydens die uitpassering gebruik mag word, word met leerlingbestuurders gedeel.
“Maar dit is en bly steeds die leerlingbestuurder se verantwoordelikheid om hierdie kennis te bekom,” het Malgas beklemtoon.
“Ja, die reëls oor die toets (sonder om ’n aansoeker onnodig te help om te slaag) kan verskaf word.
“Dit bly egter ook die verantwoordelikheid van die aansoeker en hul diensverskaffer om hulself te vergewis van die reëls soos uiteengesit in die voorgenoemde wetgewende voorskrifte.
“Die wetgewende voorskrifte sê niks oor die gebruik van voertuie wat tru-sensors bevat nie.
“Daarom kan die applikant speelruimte hê om die uitslag op hersiening te neem deur ’n formele appèl teen die besluit aan te teken,” het Malgas verduidelik.



