Inwoners van Worcester is bekommerd oor die komende brandseisoen, veral omdat daar lanklaas na die brandpaaie rondom die dorp en sy buurte omgesien is.
Verskeie inwoners het al genoem hoe bekommerd hulle is dat dit nou al so ver in die Wes-Kaapse brandseisoen is en dat die brandpaaie nog nie opgeruim is nie.
Die brandseisoen het op 1 November begin. Volgens verskeie briewe wat aan die munisipaliteit en ’n raadslid gerig is, vra inwoners van Worcester-Wes al sedert September vir die munisipaliteit om die brandpaaie op te ruim.
“Herhaalde versoeke sedert September aan die wyksraadslid is beantwoord met ‘dit gaan nog gebeur’, ‘tenders moet uitgereik word’ en ‘die brandweer is bewus’.
Dieselfde owerhede en munisipaliteit moes bontstaan in Januarie 2015 toe ’n veldbrand versprei het van die Wolseleypad en tot teen eiendomme in Worcester-Wes gebrand het. Het die amptenare verantwoordelik daarvan vergeet, of wil hulle eerder ’n krisis skep as dit afweer?” skryf een inwoner.
Volgens ’n ander brief wat ook aan die munisipaliteit gerig is rakende dieselfde probleem, het die brandpaaie se instandhouding en breedte sedert 2010 versleg en gekrimp.
“Ek het die moeite gedoen om ’n dokument saam te stel wat satellietbeelde van die presiese gebied wat ek noem van 2010 tot 2022 insluit. Dit is uiters duidelik dat die brandpad se instandhouding en breedte versleg en gekrimp het in die tyd – wat sou die rede wees?”
Die gemeenskap is ook bekommerd oor die feit dat die meeste van die bome wat die brandpaaie toegroei indringerbome is.
“Indringer Port Jackson-bome maak die grootste deel van die oorgroeide gebiede uit. Ek let op dat in vele plekke in die dorp die Port Jacksons as bome hanteer word, tot die takke word gesny asof dit ’n inheemse boom is en daar hoort. Dalk moet die afdeling verantwoordelik net sy strategie ten opsigte van indringerplante hersien.”
Nog ’n kwelpunt wat deur die beboste brandpaaie aangehits word, is die feit dat die oorgroeide gebiede skuiling en ontsnaproetes vir diewe verskaf.
“Die instandhouding van brandpaaie rondom woonbuurte verhoog ook die veiligheid in daardie gebiede omdat die beboste plekke nie as skuilplek of ontsnaproete gebruik kan word wanneer misdaad gepleeg word nie,” skryf een inwoner in sy brief aan die raadslid.
Volgens Hannelie Botha, ’n woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), is hulle reeds besig om aan verskeie brandpaaie te werk.
“BVM is reeds besig met die brandpaaie in verskeie gebiede – ook Worcester-Wes wat teen hierdie tyd klaar of feitlik klaar is. Hierna sal ander gebiede aan die beurt kom. Die diensverskaffer is onlangs wettig aangestel ná afloop van die nodige verkrygingsprosesse. Dit is belangrik om te weet dat die maak van brandpaaie deel van BVM se formele beplanning vorm. BVM is ernstig om die gemeenskap te alle tye veilig te hou – hier spesifiek ook in die brandseisoen,” sê Botha.


