’n Ouerpaar van Worcester is diep hartseer oor die omstandighede waarin hul twee maande oue baba oorlede is.
Denzil Farao en Sasha Solomons se dogtertjie was net 12 dae oud toe sy deur die departement van maatskaplike ontwikkeling van hulle geneem is.
“Ons het nie in goeie omstandighede gebly nie. Ek was ook werkloos toe hulle haar wegvat van ons af,” verduidelik ’n hartseer Farao.
Hy bieg ook dat hy en sy dogtertjie se ma van tyd tot tyd dwelms gebruik het voor hul dogter, Denjonicia, gebore is.
“Ons was skoon ná haar geboorte.”
Farao kan nie verstaan hoekom dinge gebeur het op die wyse wat dit het nie.
“Ons het soveel keer aansoek gedoen om by ons dogter te gaan kuier by die plek in De Doorns waar sy gehou is, maar dit is net nooit goedgekeur nie. Ons het selfs met ’n oplossing gekom waar sy by my ma sou kon gaan woon, maar die staat wou dit ook nie aanvaar nie,” het Farao redelik ontsteld aan Standard verduidelik.
Volgens ’n woordvoerder van die departement was die maatskaplike werker besig om ’n besoek te reël ten tyde van die kind se sterfte.
“Die maatskaplike werker was besig om die besoek met die ouers te beplan. Die uitkoms hiervan is egter deur die maatskaplik-ekonomiese omstandighede van die ouers beïnvloed,” het die woordvoerder, Monique Mortlock, gesê.
Volgens die bedroefde pa weet hulle tot op hede nog nie hoe hul babadogtertjie oorlede is nie.
“Toe ons twee dae ná haar dood haar liggaam gaan uitken, het haar klere al ’n reuk begin afgee en haar een neusgat was plat en daar het bloed uitgekom en die doekie wat sy aangehad het, was vuil. Hoekom wil hulle nie vir ons, as haar ouers, sê wat met haar gebeur het nie?”
Die departement van maatskaplike ontwikkeling het by navraag gesê hy kan ongelukkig nie die oorsaak van die kind se dood deel nie.
Standard het ook ’n navraag aan die De Doorns-polisie hieroor gerig. Hulle het bevestig dat hulle bewus is van die saak en dit ondersoek. Volgens die polisie se verslag is die kind aan natuurlike oorsake dood. Soos verduidelik deur ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie was dit ’n wiegie-dood, soos dit in die volksmond bekend staan.
“Volgens die nadoodse ondersoek was dit ’n natuurlike dood wat veroorsaak is deur respiratoriese probleme. Volgens die vrou wat na die baba omgesien het, het die kind nog die vorige aand gelewe, maar toe sy die volgende oggend om 05:15 by haar kom, het sy nie meer asemgehaal nie.”
Farao het ook verduidelik dat die departement hom sou help om by ’n rehabilitasiesentrum in te kom.
“Dit het nog nie gebeur nie. Ons dogtertjie is gesond gebore en ons het besluit om ons lewe te verander. Sedert die geboorte is haar ma by ’n sentrum waar sy gerehabiliteer word. Ons het alles in ons vermoë probeer ons kind terug te kry.”
Die departement sê Farao was wel deel van ’n rehabilitasieprogram.
“Hy is by ’n buitepasiëntprogram ingesluit, maar het verkies om ’n binnepasiëntbehandeling by te woon wat nie onmiddellik beskikbaar was nie. Tans is ons besig met die opname by ’n binnepasiëntbehandelingsentrum.”




