“Ek is gebroke; hy was my lewe.”
Dít is die woorde van Valentino Peters (20) se ma. Hy het verlede week op die N1 naby Touwsrivier vermis geraak en sy lyk is twee dae later langs die N1 gevind.
Peters is verlede Sondag weg van hul huis in Wesbank naby Kuilsrivier.
“Ek was besig met wasgoed en kos toe hy vir my sê hy gaan gou ons bure rondry. Hy het nie gesê waarheen nie,” vertel Peters se ma, Joslyn. Hy het die bure gereeld rondgery.
“Hy was al jongman hier met ’n bestuurslisensie en het gereeld bure met hul eie voertuie vervoer. Dit was nie ongewoon vir hom om vir my dit te sê nie. Hy was altyd gewillig om te help.”
Sy ma was gewoond hy ry mense op en af in die buurt of na winkels in die gebied, maar daardie Sondag het sy bure hom gevra om iemand in Beaufort-Wes te gaan haal.
“Ek het toe vir hom gesê hy moet vinnig maak, want die kos was amper klaar en ek het spesiaal sy gunsteling, koesister, gemaak. Toe beurtkrag om 14:00 verby was, het ek begin wonder waar my kind is, want hy is al voor beurtkrag weg. Toe bel ek die buurman en vra waar die kinders is en dis toe hy vir my sê hulle is Beaufort-Wes toe. My kind was nog nooit daar nie, ek weet nie eens of hy geweet het hoe om tot daar te ry nie.
“Ek het hom onmiddellik probeer kontak, maar hy het nie geantwoord nie en ek het toe stemboodskappe vir hom gelos.”
Sondagaand kon sy haar seun op sy foon in die hande kry.
“Hy het gesê hulle het sonder petrol gaan staan. Hy het self nie geweet waar hy was nie.
“Maandagoggend het ek na die buurman gegaan en hom gevra hoe hy my kind so ver kon stuur. Ek is teleurgesteld in hom. Hulle het glo geld na die seuns gestuur vir petrol.”
Peters en sy drie vriende het ’n entjie verby Touwsrivier gaan staan.
Beeldmateriaal van die vulstasie in Touwsrivier waar hy petrol in ’n houer gaan sit het, wys hy het op ’n trok gespring.
“Die beeldmateriaal wys hy het op ’n vragmotor se wa gespring.
“Hy het dit nooit terug na die motor gemaak nie.Die ander insittendes van die motor se ma het hulle toe gaan haal.
“Hulle het sonder my kind huis toe gekom. Toe ek die nag na 02:00 wakker skrik, het ek besef my kind is nog nie by die huis nie. Ek het oorgestap na hulle huis en gevra waar my kind is en hulle kon my nie antwoord nie.”
Die volgende dag het Joslyn en nog familielede deurgery om na Peters te soek.
“Intussen is sy liggaam langs die N1 gevind. Die polisie vermoed hy is oorlede toe hy van die trok af gespring het. Hulle verduidelik toe hy afgespring het, het hy op sy voete beland en die impak het hom op sy knieë laat val en toe vooroor en toe het hy glo sy skedel en menige ander bene in sy liggaam gebreek.”
Sy het egter nog baie vrae.
“Hoekom was die petrolkan nie saam met hom nie? Daar wees geen bloed op die pad nie, net ’n klein bietjie by sy kop. Ek kan nie vrede maak met wat gebeur het nie.
“Hy was my baba. Ek het nog alles reggesit vir hom vir die Maandag vir werk. Ek het gewag vir my kind. Ek is gebroke.”


