Ouers of voogde wat nie aanlyn vir die 2023-skooltoelatings kan aansoek doen nie, word aangemoedig om hul onderwysdistrikskantoor om bystand te nader.
Aanlyn registrasie vir leerders wat volgende jaar in graad R, graad 1 en graad 8 is, sal om middernag op 15 April sluit. Aangesien talle ouers en voogde nie tegnologies toegerus is om aanlyn registrasies te doen nie, is distrikskantore aangesê om hiermee te help, sê Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD).
Skole in die Breedevallei val onder die Kaapse Wynland-onderwysdistrik.
Mense wat bystand benodig, kan óf die kantoor van Juan Benjamin, die plaaslike WKOD-direkteur, by 023 348 4601 skakel of e-pos aan sy assistent, Linda Ntlombeni, by linda.ntlombeni@westerncape.gov.za stuur. Alternatiewelik kan die kantoor by Durbanstraat 9 besoek word.
“Ons moedig egter soveel ouers as moontlik aan om aanlyn aansoek te doen,” sê Hammond.



